HEIDELBERG NUUS - As 'n jong kleuter het sy altyd haar pa sien speel en hom daarvoor bewonder. Toe, op vyfjarige ouderdom, het sy haar eerste skoot op die potspeltafel afgestuur.
Sasha-Lee Amsterdam (27), ma van 'n vierjarige dogtertjie, is onlangs ná die Suid-Afrikaanse 8-bal potspelkompetisie in Saldanhabaai as SA kampioen gekroon.
Na dié skittervertoning is sy ook Suid-Afrika se voorste vrouepotspelspeler. Sy is ook as speler van die toernooi aangewys.
Sasha-Lee is ook gekies om Suid-Afrika tydens die wêreldkampioenskap in Junie 2024 in Australië te verteenwoordig.
Volgens Sasha-Lee was haar pad na die kroon geensins 'n maklike reis nie. Sy moes eers Tasneem Solomons in die halfeindstryd uitskakel en daarna met die formidabele strydros, Amy-Claire King, in die eindstryd klaarspeel.
Die passievolle sportvrou spog met 'n uitmuntende rekord van prestasies sedert sy haar stempel as 10-jarige kleuter in die o.18-vrouekompetisies afgedruk het. Haar eerste groot prys was as naaswenner in 2005 by die SA kampioenskappe. Daarna het sy al in 14 SA eindstryde meegeding. Sy staan nie verniet as die "sniper" in potspelkringe bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’