HEIDELBERG NUUS - Die 29-jarige Sasha-Lee Amsterdam (29) van Heidelberg is boaan ‘n wêreldranglys van vrouepresteerders in potspel: eerste gekeur!
Sy het weliswaar nié die wêreldkampioenskaptitel verlede week op die eiland Malta by die Internasionale Swartbal-federasie se wêreldpotspelkampioenskap verower nie.
Sy moes haar vernuf tussen 150 uitstekende spelers van sewentiende lande in strawwe mededinging ten toon stel.
“Dit is ‘n prestasie om bó ander mededingers in die vroue-groepkampioenskap te kan troon. Sy het teen elke vrou in die toernooi gespeel - én die punteleer oorheers,” sê Riaan Fritz, nasionale skeidsregter-koöordineerder en bemarker van die South African Confederation of Cue Sport (SACS.
“Albei spelvlakke het eie uitdagings. In die spanspel kan jou spanmaats jou ondersteun, jou foute onderskep en jou steeds ‘n spel laat wen. In die enkelspel word hoër konsentrasie vereis en jy is op jou individuele vernuf aangewese: klein foutjies veroordeel jou sónder genade!”
Clive Pretorius, Suid-Kaap Forum se korrespondent in Heidelberg, berig sy is vroeër vandeesweek by die Duivenhoks-gemeenskapsaal in haar tuisdorp terugverwelkom toe dorpenaars in hul hordes opgedaag het om “Shasha”, soos sy alombekend geliefd is, se spogvertoning te vier.
Nagenoeg 250 inwoners - familie, vriende, leerders, onderwysers en die prinsipaal Trevor Februarie van haar alma mater, Kairos Senior Sekondêre Skool,– het haar met haar tuiskoms luidkeels toegejuig.
Gerald Boezak, die Hessequa-munispaliteit se onderburgemeester, en die wyksraadslid Abraham Daniëls, het in kort toesprake met haar welverdiende welslae gespog.
Lesley Hartnick,’n gemeenskap-ontwikkellingwerker, het 'n trofee en sertifikaat aan Amsterdam as ‘n blyk van waardering oorhandig.
Sy is ook met kontant beloon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’