STILBAAI NUUS - Die tweede Stilbaai-parkrun het Saterdagoggend, 22 Januarie plaasgevind en 83 entoesiaste het die pragtige 5km-roete aangepak om te stap, draf of hardloop.
Die parkrun vind elke Saterdagoggend plaas en wegspringtyd is 08:00 op die strand by Stilbaai-Wes.
Niemand is verplig om dit elke Saterdag by te woon nie, dit hang van elke persoon self af hoe dikwels hy of sy dit wil doen.
Uit Hoofweg-Wes draai jy af in Steynstraat en dan is die parkeerarea voor jou. Die roete loop op die strand tot by die riviermond, waarna jy links swenk en dan op die wandelpaadjie stap tot by Palinggat. Daar sirkel jy en stap, draf of hardloop terug na die beginpunt.
Die organiseerder is Nico Steenekamp en hy sê almal is baie welkom. As jy dus nie kan hardloop, draf of stap nie is jy welkom om as vrywilliger met die dag se gebeure te help. Omdat die parkrun gratis is, maak hy staat op vrywilligers om hom te help.
Die parkrun vind plaas in meer as 3 000 gemeenskappe regoor die wêreld en groei weekliks. Met elke wedloop word jou tyd aangeteken indien jy amptelik by die parkrun organisasie geregistreer is.
Persone wat wil registreer, kan met Steenekamp by die volgende wedloop praat en hy help graag. Geregistreerde drawwers/stappers kan aan enige parkrun in die wêreld deelneem.
As jy nie wil registreer nie is jy steeds welkom, maar jou tyd word nie op die stelsel ingelees nie. Registrasie is egter tot jou eie voordeel, want jy neem deel teen jouself deel en jy kan dus maklik rekord hou van jou vordering.
Miskien wil jy net aktief wees, of jy wil nuwe mense leer ken, dalk wil julle as gesin iets teen julle eie pas doen, of jy wil as vrywilliger net help om ander mense aan te spoor om bietjie te oefen, dan is Stilbaai-parkrun vir jou.
Vir verdere inligting kan jy die Facebookblad Stilbaai West Beach parkrun besoek.
En almal spring weg.
Estelle en Neels Raath staan by Nico Steenekamp (organiseerder) in die middel. Hulle het al die pad van Mosselbaai gekom om die Stilbaai Parkrun te stap met hulle hondjie. Hulle het al 140 parkruns agter die blad en spog hier met hulle hempies vir 100 parkruns voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'