Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Gr.12-leerder van Oakdale en sy pa speel sommer maklik met 'n fietsmarathon van 230 km klaar.
Pieter de Jager en sy pa, Pieter sr. het op Saterdag 17 Augustus die Transbaviaans Repeat in 13 uur 43 minute voltooi.
Dié 24 uur enkelskof bergfietsmarathon word as die taaiste op die internasionale fietsrykalender beskou. Deelnemers sping in die Karoo by Willowmore weg en eindig in Jeffreysbaai.
Volgens Pieter jr. het sy pa al die Cape Epic en die Argus wedrenne voltooi en hy het van kleins af saam met hom geoefen. Die afgelope twee jaar het hy self kompeterend begin deelneem.
Hy vertel dat sy pa hom onder laat begin het met tekkies en 'n goedkoop fiets want hy wou eers sien of dié ding regtig by sy seun gaan posvat.
Die twee De Jagers ry elke naweek wat hulle nie deelneem nie vir so 5 of 6 ure saam fiets. Dit is tussen 100 en 120 km per oefensessie.
Daarbenewens draf Pieter jr. gedurende die week en doen spinoefening in die gimnasium.
Op die vraag of hy ooit homself gedurende 'n wedren afvra of hy die regte ding gedoen het, is sy antwoord eenvoudig: "Mens moet net ophou dink en klaarmaak." Handdoek ingooi is duidelik nie 'n opsie vir die vriendelike, vasberade jong man nie.
Hy beplan om volgende jaar met 'n landboukwalifikasie by die Elsenburg Landbouopleidingsinstituut te begin en daarna oorsee te gaan boer vir ondervinding. Fietsry sal altyd deel van sy lewe bly sê hy, maar nou kom die naderende eksamen eerste.
Lees 'n vorige artikel hier: Oakdale bul en sy pa nie bang vir fietstrap
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'