GEORGE NUUS - Thomas van Rijkevorsel (17), 'n voormalige leerder van Glenwood House, is tydens die onlangse Jeugruiterkunsspele (Youth Equestrian Games - YEG) van die Internasionale Ruiterkunsfederasie in Aachen, Duitsland as die top-junior ruiter aangewys.
Van Rijkevorsel het die goud voor 29 ander deelnemers opgeraap. Hy het ook brons ontvang as deelnemer vir die span van Afrika.
"Dis vir my 'n droom wat waarheid geword het," sê Van Rijkevorsel.
Om die speelveld gelyk te maak, moes deelnemers deur 'n trekking 'n perd kies en so het hy op Lucy 781 deelgeneem.
"My voorbereiding was gelukkig van so 'n aard dat ek op baie verskillende perde voor die kompetisie geoefen het, so ek was reg vir enige van die 38 perde. Daar was vooraf drie oefensessies van 45 minute elk. Jy probeer jou bes om hulle te verstaan en te leer ken in 'n baie kort tyd. Gelukkig was Lucy baie dieselfde as my perde hier in Suid-Afrika," het hy aan George Herald gesê.
Sy benadering tot sulke groot kompetisies is om homself so goed moontlik voor te berei. "Perdry is baie intensief. Jy moet jouself asook jou perd fiks en in oefening hou. Ek ry elke dag, maar voor Aachen het ek omtrent agt ure per dag gery."
Hy was in 2021 die o.25 Suid-Afrikaanse kampioen en in 2020 die SA junior ope kampioen. Verlede jaar het hy ook drie eerste plekke behaal in verskeie plaaslike kampioenskappe.
Vroeër vanjaar is hy na Algerië waar hy as een van vier Suid-Afrikaners vir Span Suid-Afrika aan 'n junior nasiesbeker deelgeneem het.
Om dit te maak tot in Duitsland, het begin met Suid-Afrika wat een van die topvyf lande in Afrika was wat elk een posisie by die YEG gekry het. "Na hierdie kompetisie is 'n kortlys van die 16 top-juniors in Suid-Afrika gekies wat deur uitdunrondes na vier verminder is. Die vier bestes het teen mekaar deelgeneem waar ons met ons eie asook mekaar se perde moes spring, met slegs drie minute tyd om hulle te leer ken. Die wenner van die kompetisie was Suid-Afrika se atleet vir die YEG," vertel Van Rijkevorsel.
Soos met die Jeug Olimpiese Spele, is daar geen individuele prysgeld of pryse by die YEG nie. Daar is wel 'n bedrag van $10 000 wat die topdrie ruiters kon skenk aan afdelings van JustWorld, die amptelike welsynsorganisasie-vennoot van die Internasionale Ruiterkunsfederasie. Van Rijkevorsel het sy derde geskenk vir mediese hulpverlening aan minderbevoorregtes in Guatemala.
Van Rijkevorsel was vir ses jaar 'n leerder by Glenwood House voordat die gesin verlede jaar Johannesburg toe getrek het. "My afrigter, Dominey Alexander, is in Johannesburg en dis amper onmoontlik om op hierdie vlak mee te ding in George. Daar is elke naweek 'n kompetisie in Johannesburg met baie meer deelnemers."
Hy is tans 'n tuisleerder. Hy het rugby op 11-jarige ouderdom vir perdry verruil. "Ek was mal daaroor vandat ek vir die eerste keer op 'n perd gesit het. Ek moes baie tyd insit om vrugte te kan pluk en dus moes ek kies."
Wat maak 'n wenner in hierdie sport? "Harde werk en bietjie geluk. Jy is deel van 'n span ... jy en jou perd, elk met jul eie emosies en idees," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'