HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 23 Julie weereens hul kanse lewendig gehou om na die uitspeelrondes deur te dring met 'n groot, dog nie so indrukwekkende sege, van 53 - 15 oor Jaguars van Plettenbergbaai.
Heibe het teen rustyd met 19 - 0 voorgeloop in dié Superliga A-tuiswedstryd.
In teenstelling met hul kenmerkende vlugvoetige vertonings van die afskop af, het Heibi dié keer hul fanatiese ondersteuners taamlik laat kopkrap met seker een van hul minder oortuigende vertonings van die seisoen.
Die nat weer was natuurlik nie geskik vir enige aantreklike hardlooprugby nie.
Heibi sal ook nie tevrede wees met hul fees van nege drieë nie aangesien die meerderheid van dié drieë van ongedwonge foute aan Jaguars se kant gekom het. Dat hulle wel dié foute uitgebuit het, beteken nie dat hulle vir die res van die seisoen op hul louere kan rus nie. Veral nie met nog twee taai wedstryde wat voorlê ná 'n welverdiende ruskans die komende Saterdag nie.
Vir Heibi het beide vleuels, Blake Morgan en Lorenzo Gordon, asook Pietie Uys, plaasvervanger-heelagter, elk twee keer gaan druk. Corbin Swartbooi, heelagter, Lyndon Hartnick, kaptein en agsteman, en Chris Michaels, haker het elk een keer agter die doellyn gaan kuier.
Eslin Naudt, losskakel, het met drie doelskoppe en Uys het met een doelskop geslaag.
Jaguars se puntemakers was Chumani Williams, regtervleuel met twee drieë en Phumlani Thembani, flank, met een drie.
In die eerste wedstryd van die dag het Heibi se derde span die toon vir die dag aangegee en met 26 - 8 koning gekraai nadat hulle rustyd met 21 - 8 voor was.
Heibi se puntemakers was Warren Tarentaal, regtervleuel, Marx Hartnick, senter, Thurswin February, flank, en Widren Hartnick, plaasvervanger-heelagter, met 'n drie elk. Veandré Carelse, heelagter, het drie van die vier drieë verdoel. Vir Jaguars het Luchion Meyer, losskakel, al sy span se punte met 'n drie en 'n strafskop aangeteken.
Heidelberg se tweede span het hul wedstryd op 'n drafstap met 72 - 0 gewen nadat hulle rustyd met 19 - 0 voorgeloop het. Hulle het 12 drieë ingeryg waarvan Daylin Manho, losskakel, en Reginald Salmon, regtervleuel, elkeen twee keer agter die doellyn gaan kuier het, terwyl Reevin February, heelagter, Denovan Riddles, senter, Beaugram van Niekerk, senter, Shirgené Swartbooi, linkervleuel, Jenovan Booysen, agsteman, Jaydian September, flank, Vin-Lee October, haker, en Jerome Persence, plaasvervanger-linkervleuel, elkeen ook een drie gedruk het. Manho en February het elk ook met vier en twee doelskoppe onderskeidelik geslaag.
Heibi se volgende wedstryd is weg teen Progress van George en hier kan 'n reusestryd verwag word, met Heibi wat nou tans tweede op die punteleer is met Progress knap agter Heibi in die derde plek.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'