HESSEQUA SPORTNUUS - Ná maande se onsekerheid oor wanneer byeenkomste weer aangebied mag word na gelang van die Covid-19-pandemie en regulasies, was die goeie nuus dat Stilbaai se Hessequa Heritage Fees en Trail-runs wel op Saterdag, 26 September sou plaasvind.
Dit is vanjaar die vierde agtereenvolgende jaar wat dié byeenkoms, wat hoofsaaklik uit die 16 km Heritage Trail-run en die 5 km Mini Trail-run bestaan, asook die brood- en beskuitfees by die eindpunt by Stilbaai Toerisme, aangebied is.
Hoewel die organiseerders minder as 10 dae gehad het om alles in plek te kry, is 'n goeie hoeveelheid inskrywings vir die 16km trail-run ontvang en 'n totaal van 96 deelnemers het vanjaar dié asemrowende kusroete vanaf Jongensfontein na Stilbaai suksesvol voltooi, ten spyte van ysige weersomstandighede, reën en wind plek-plek.
Daar was ook 'n nuwe wenner met die Oudtshoorn-atleet, Anderson Ncube wat die afstand in 'n tyd van 1:09:33 kafgedraf het. John April, ook van Oudtshoorn, het sewe sekondes agter hom in die tweede plek geëindig met Riversdal se Leon Adams, wat die eerste wenner in 2017 was, derde. Sy tyd was 01:10:32. Die 2018-wenner, Danie Geldenhuys, ook van Riversdal was vanjaar agtste.
Die eerste vroue by die einde was die Riversdal-drawwer, Lodelia Odendaal en haar suster, Lisl Grobler wat presies dieselfde tyd aangeteken het. Hulle was binne 1 uur 28 minute en 50 sekondes by die einde.
Madré Steenkamp (01:35:24) en Karen Wentzel (01:35:25) was die volgende vroue by die einde het het óók bykans saam klaargemaak. Deelnemers kan die roete volgens hul eie vermoëns aanpak en diegene wat eerder wil stap en meer van die asemrowende natuurskoon wil inneem, het dit gedoen.
Die 5 km-Mini Trail is deur 115 deelnemers verteenwoordig. Conrad Heyns (14) van Swellendam was eerste by die einde in 'n tyd van 24 minute en 40 sekondes. Hy en nog 'n skolier, Hanlo Barkhuizen van Mosselbaai was net 'n sekonde uit mekaar met Johannes Brink (10) derde met 'n tyd van 26 minute 02 sekondes. Hulle is deur twee Stilbaai-hardlopers gevolg; Willem-Daniël Matthee (9) wat vierde was (26 min, 22 sek) en Schalk Fouché (26 min, 46 sek).
Die eerste vrou, Caro Stroebel was ook sesde algeheel in 'n tyd van 27 minute, 26 sekondes met Salomé Lourens tweede (28 min, 06 sek) en Hendrika Louw (28 min, 18 sek) derde. By die eindpunt by Stilbaai Toerisme kon deelnemers, besoekers en Stilbaaiers na hartelus heerlike kos en eetgoed koop tot twee reënbuie die meeste stalletjiehouers genoop het om op te pak.
Die organiseerders bedank Hessequa-munisipaliteit, al die rolspelers en deelnemers waarsonder dié byeenkoms nie sou kon plaasvind nie. Volgende jaar se byeenkoms sal waarskynlik op 25 September aangebied word.
•Volledige resultate is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za terwyl die resultate en foto’s ook op die byeenkoms se Facebook-bladsy beskikbaar is.
Die 2020-wenner van die 16 km-Heritage Trail-run, Anderson Ncube, hier net voor Riversdal se Leon Adams op die kusroete tussen Jongensfontein en Stilbaai. Foto's: Richard Webb
Drawwers pak die kus tussen Jongensfontein en Stilbaai aan.
Conrad Heyns (voor) en Hanlo Barkhuizen wat die 5 km-Mini Trail onderskeidelik eerste en tweede klaargemaak het.
Vorige artikel: Ongure weer hou drawwers nie weg
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'