RIVERSDAL NUUS - ‘n Boerklong sal ‘n stukkie steak van 560 g in ‘n paar happe kan verorber. Maar, as jy ‘n kampioentoutrekker is, wat jou span se wêreldtitel die derde keer in die 560 kg-afdeling wil verdedig, moet jy tevrede wees met 56 gr-happies.
“Nou’s ons honger!” laat weet Piet Lourens, die afrigter van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal se bekroonde span toe hulle op Frankfurt, Duitsland, se lughawe land. “Ons is ‘n bietjie op ‘n dieet!”
Piet en sy Protea-afvaardiging, wat die spanbestuurder en ‘n biokinetikus insluit, was toe al amper 24 uur lank in die lug. Die span het Sondag 1 September, om eenuur die middag van die Kaapstad-lughawe vertrek, twaalf uur later in ‘n geskarrel net-net betyds die aansluitingsvlug in Dubai gehaal, deur ‘n tydsone gevlieg en die volgende oggend om 9:45 - Europese en Suid-Afrikaanse tyd - in Frankfurt geland.
Hy sê dit is nie wenslik om in die lug vliegtuigmaaltye te eet nie; té veel onbeheerbare vog is betrokke, wat die deelnemers se inweegmassa kan belemmer.
By die hotel aangekom, is die tienerseuns eers geweeg om hul massa te bepaal en daar is gedraf om vogstabiliteit te herstel.
Toe het hulle twee bussies gehuur en die stad gaan verken.
Laatmiddag het hulle ‘n bekende deli naby die hotel in Bul-tradisie bestorm en ‘n verskeidenheid kouevleis (ham, bief en hoender) en ‘n klompie hompe kaas - gekoop: aandete is beklink.
Gelukkig mág die manne baie proteïene inneem.
Vanoggend (3 September) het hulle ‘n koue ontbyt by die hotel geniet wat, naas vleis, ook eiers en pap ingesluit het.
“Ons is nou per bus op pad Manheim toe, waar die kampioenskap plaasvind. Ons moet môre binne die voorgeskrewe massabepaling inweeg om te kwalifiseer.”
Suid-Kaap Forum volg die afvaardiging tot in Manheim, Duitsland, en sal gereeld verslag lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’