RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se Protea-toutrekspan, wat ook vroeër vanjaar as die skolespan van die jaar by die jaarlikse SA-sporttoekennings aangewys is, verdedig vandag (8 September) sy wêreldtitel die derde keer.
Twee van Oakdale se klubspanne het Vrydag, 6 September, nóg twee medaljes by die Alsenwegen-stadion in die klubkampioenskap ingeplam.
Die A-span het teen ‘n Sjinese span van Tapei vasgeval, maar het wel ‘n silwermedalje verower. “Dit was ‘n rillerstryd wat drie trekke geverg en 46 minute lank geduur het,” sê Piet Lourens, die afrigter.
Hy sê ná die reën die eerste dag, gevolg deur snikhete temperature daarna, is die veld geweldig stowwerig. Dit beduiwel die vastrap-anker en die deelnemers se vaardighede word tot die uiterste beproef.
Die B-span het Nederland flink uitoorlê om die bronsmedalje los te trek.
Die Oakdalers het reeds ‘n goue en silwermedalje in die 600 kg-gewigafdeling vir mansatlete o. 23 verower.
Hulle het hul staal teen tien spanne gewys: Duitse, Walliese, Engelse, Switserse, Skotse, Taiwanese en Nederlandse spanne.
“Ons is geweldig trots op die atlete en tevrede met die welslae,” sê Piet. “Ons het ‘n paar uitmergelende dae agter die rug. Ons trek soms nog tot ná agt saans. Dan volg die medaljeseremonie en ons kom dikwels eers ná elf saans terug by die hotel aan.”
Oakdale se Proteaspan het gister gerus.
Sowat 1 500 klub-atlete van 25 lande neem aan Twif (Tug of War International Federation) se troutrek-wêreldkampioenskap in ’n snikhete Mannheim, Duitsland, in verskillende gewig-afdelings deel.Oakdale se bronsmedaljewenners is Nico Geldenhuys, Simeon Botha, Andreas Muller, Christo Gouws, Richard Pretorius, Wihen Conradie, Dirkie Human en Gawie Marais.
Oakdale se silwermedaljewenners is Lourens Brand, Steyn de Wet, Henk Meyer, Kobus du Plessis, Divan Sprong, Juandré Aucamp, Francois Janse van Rensburg en Zander Groenewald.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’