Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Hoër Landbouskool Oakdale se Protea-toutrekspan het nóg ‘n gouemedalje én ‘n wêreldtitel verower.
Dié span het sy kampioenskapstatus herbevestig om die wêreldtitel die derde keer agtereenvolgens in die 560 kg-afdeling vir junior mans o.19 op triomfantelike wyse in te palm.
“Dit was ‘n rillerstryd van 45 minute lank en het vier uitmergelende trekke geverg om te wen,” sê Piet Lourens, die afrigter.
Een van trekke het geen resultaat opgelewer nie. Albei spanne het drie waarskuwings gekry en is deur die skeidsregter uitgeblaas. Die veld was geweldig sanderig en die atlete kon bloot nie vastrapplek kry om grond te wen en die kompetisie te voltooi nie. Die tou is toe na ‘n ander veld verskuif.
“Ons het die nuwe terrein vinnig opgesom, ons enkels stewig geanker en met ‘n vasberade greep ons Chinese-teenstanders van Taipei in ‘n japtrap tot niet gedruk,” sê Piet.
Die lenige Suid-Afrikaanse toutrekatlete se fisieke krag en psigiese sterkte, tegniese vaardighede, spanwerk, strategie en uithouvermoë het getriomfeer en hulle is met goud beloon.
VIDEO: Video van Oakdale se 560 kg-toutrekspan wat Sondag in Duitsland die toutrek-wêreldkampioenskap vir die derde jaar in 'n ry gewen het.
Die kampioen-afvaardiging en ‘n groep ouer-ondersteuners vertrek vandag na die geskiedkundige Duitse dorpie Heidelberg en sal tot môre daar vertoef voor hul vertrek terug Suid-Afrika toe.
Hulle land Donderdag 12 September in Kaapstad.
Die gouemedaljewenners is Wihen Conradie, Zander Groenewald, Francois Janse van Rensburg, Divan Sprong, Andreas Muller, Lourens Brand, Steyn de Wet en Henk Meyer. Die ander lede van die Proteaspan was Jandré Aucamp, Nico Geldenhuys, Richard Pretorius, Simeon Botha Christo Gouws en Kobus du Plessis. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’