RIVERSDAL NUUS - Die 560 kg-toutrekspan van Hoër Landbouskool Oakdale het op Sondag 24 September 'n silwermedalje tydens die wêreldkampioenskap in Southport, Engeland verower.
Die Oakdalers het in die uitdunronde teen Engeland, Switserland, België, Nederland, Swede en Chinese Taipei getrek.
Hulle dring deur na die halfeindronde waar hulle die spanne van Nederland en Chinese Taipei oortuigend wen om na die eindronde teen Switserland deur te dring.
Die span word na 'n waarskuwing met betrekking tot 'n tegniese aspek uitgeblaas en word Switserland as die wenners gekroon.
Tydens die ope-klubkampioenskap wat Vrydag 22 September plaasgevind het, verwerf Oakdale se 560 kg A-span die goue medalje en die 560 kg B-span behaal 'n vierde plek.
Volgens die skoolhoof, André Latsky, was die span vanjaar beter voorbereid en was hulle absoluut oorgehaal om die Switserse span te wen.
"Ons is baie trots op hulle en dit is steeds 'n skitterende prestasie om as tweede beste in die wêreld gekroon te word."
Die span arriveer Donderdagmiddag 28 September in Suid-Afrika.
Oakdale se SA toutrekspan is agter, van links: mnr. Tienie van Wyk (afrigter), JJ van der Vyver, Pierre Blignaut, Koos Botha, Johan Swart, Tiaan Conradie, mnr. Piet Lourens (afrigter) en André Matthee. Voor: Matthys Swart, FC Kriel, De Wet Theunissen en Petrie Frick.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'