HESSEQUA NUUS - Met 1 635 deelnemers van 405 toutrekspanne van oor die hele land was die sportgronde van Hoërskool Robertson 'n miernes van bedrywighede.
Nie eers 'n paar goeie reënbuie kon die geesdrif demp nie, en ondersteuners - meestal ouers - het bankvas bly staan om hul spanne luidkeels aan te moedig.
Heelwat Hessequa-spanne het ingeskryf en gemengde welslae behaal op dag een van die tweedagkompetisie. maar Oakdale Landbouskool het egter kop en skouers bo die ander deelnemende spanne uitgestaan.
Indien die Riversdallers hul momentum op dag twee kan behou, kan hulle die skool se trofeekas aansienlik voller maak.
Toutrek is die oudste opgetekende spansport in Suid-Afrika en dateer terug na 1836. Die sport is veral gewild in landelike gebiede, waar sowat 82% van die klubs is gesetel is.
Dit is ook 'n groeiende sport, veral by skole, soos blyk uit vanjaar se 405 spanne - 'n toename van verlede jaar se 385.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’