Die kragmeting tussen hierdie twee skole word as een van die belangrikste beskou in die Suid-Kaap vanweë beide skole se voorsiening van rugbyspelers aan die provinsiale skolespanne. "Terugskouend kan met reg gesê word dat dit 'n skouspel van skolerugby en sportmanskap was wat beide skole en hul ondersteuners tot eer strek. Langs die velde het toeskouers in 'n feestelike atmosfeer verkeer en die hartlike gasvryheid van die Oakdale-gemeenskap ervaar," het André Latsky, skoolhoof gesê.
Alle wedstryde was hard en mededingend en met verloop van die dag se wedstryde was dit duidelik dat die o.19 A-wedstryd 'n 'naelbyter' sou wees.
Dit was 'n wedstryd wat vir die volle duur daarvan wipplank gery het en tot die laaste minuut nie 'n besliste wenner gehad het nie. Dit was egter die skopwerk van die Oakdale-senter, JT Jackson, wat met sy kanonvoet verantwoordelik was vir die meeste van sy span se punte. Dit was ook Jackson wat in die laaste minuut 'n strafskop van die kwartlyn af oor die pale geskop het vir 'n Oakdale-oorwinning van 23 - 22.
Beide spanne het pragtige aanvallende en aanskoulike spel gelewer. Die wedstryd het in baie goeie gees plaasgevind. Dit was ook die Oakdale-leerders wat, in 'n see van bloubaadjies op die paviljoen, deurgaans hul span op tradisionele wyse met samesang en krete aangemoedig het wat gedeel het in hierdie goeie oorwinning. Oakdale teken gedurende die dag 420 punte aan en staan 128 af.
Die tellings van die ander wedstryde lyk soos volg
O.19A: 23 - 22 (wen); o.19B: 17 - 5 (wen); o.19C: 45 - 7 (wen); o.19D: 51 - 8 (wen); o.19E: 55 - 0 (wen); o.16A: 25 - 16 (wen); o.16B: 35 - 7 (wen); o.16C: 40 - 0 (wen); o.15A: 10 - 17 (verloor); o.15B: 21 - 15 (wen); o.15C: 12 - 10 (wen); o.14A: 19 - 14 (wen); o.14B: 12 - 7 (wen); o.14C: 55 - 0 (wen); o.16D teen Gerrit du Plessis; o.16A: 10 - 55 (verloor); o.14D teen Gerrit du Plessis o.14A: 0 - 45 (verloor); o.14E teen Gerrit du Plessis; o.14B: 0 - 58 (verloor).
JP Coetzee en JT Jackson in aktsie tydens die wedstryd van Oakdale teen Outeniqua.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'