BREDASDORP NUUS - Van karavaan-vakansies saam met die vierpotige familielid tot wyn, wildritte en plaaslike lekkernye - Hessequa-toerisme het vanjaar by Nampo Kaap gewys waarom die streek meer as net 'n landbouhartland is.
Hessequa-toerisme het vir die eerste keer by een van Suid-Afrika se grootste landbou-uitstallings uitgestal en die munisipale gebied as vakansiebestemming aan besoekers van regoor die land bemark.
Nampo Kaap is van 9 tot 12 Septem-ber in Bredasdorp aangebied.
Een van die boodskappe wat Hessequa-toerisme aan besoekers oorgedra het, is dat die vier munisipale karavaanparke - Preekstoel, Ellensrust, Jongensfontein en Witsand Middelkamp - sedert 1 Julie vanjaar gedurende die laagseisoen dierevriendelik is.
Die streek se dorpe en toerisme-aanbiedinge is ook deur plakkate, plaaslike produkte en toerismebrosjures bemark.
Op Saterdag 12 September kon besoekers aan 'n Prik 'n ballon-kom-petisie deelneem waarin 19 gelukkige wenners met plaaslike pryse weggestap het.
Dit het onder meer wildritte, jenewerproesessies, wyn en beskuit ingesluit.
Volgens Hessequa-toerisme het die stalletjie goeie belangstelling gelok, met besoekers wat veral die vriendelike personeel en die streek se natuurskoon geloof het.
Personeel het selfs besoekers ontmoet wat vertel het dat hulle reeds 43 jaar lank in Stilbaai vakansie hou.
Talle Hessequa-inwoners het ook Nampo Kaap besoek, waaronder mense van Vermaaklikheid, Heidelberg, Witsand, Slangrivier, Riversdal, Stilbaai, Albertinia en Gouritsmond.
Volgens Hessequa -toerisme bied uitstallings soos Nampo Kaap 'n geleentheid om die streek as 'n veilige, bekostigbare en sentraal geleë vakansiebestemming in die Tuinroete te bemark.
Plaaslike toerismeondernemings en produsente word genooi om met toekomstige uitstallings saam te werk.
Dit sluit die Grabouw Buite Ekspo in November en die kykNET Buite Ekspo in Malmesbury in Maart 2027 in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’