STILBAAI NUUS - Vyf Stilbaai-ondernemings het hul plek onder die topdrie finaliste in die 2026 AHI Eerbewyse verower - 'n besondere prestasie wat die gehalte, innovasie en ondernemingsgees van die dorp op 'n provinsiale platform beklemtoon.
In die Beginner Besigheid van die Jaar-kategorie het Oh My Gluten Free van Kenneth en Janet Gormley, sowel as Traditional Table, van Rhona van Heerden en Pieter Crous, deurgedring.
Coffee and Cream, van Ida Prinsloo, en Skilpadbessie Eko-kamp, van Johannie Vermeulen en Werner du Toit, is onder die topdrie finaliste in die Gasvryheidsbesigheid van die Jaar-kategorie.
In die Klein Besigheid van die Jaar-kategorie het Rijké, van Rudie en Marijké Kleynhans, ook die topdrie gehaal.
Die wenners word op 17 September tydens die AHI Eerbewyse Gala-aand by Rijké aangekondig.
Om vyf topdrie finaliste uit Stilbaai se sakegemeenskap te hê, is reeds 'n uitsonderlike prestasie. Dit bevestig dat groot drome, harde werk en deursettingsvermoë nie deur die grootte van 'n dorp bepaal word nie.
Agter elke finalis staan entrepreneurs wat geleenthede raakgesien het, risiko's geneem het en met passie hul ondernemings opgebou het.
Hierdie erkenning is welverdiend en dien as 'n inspirasie vir die hele Stilbaai-gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’