RIVERSDAL NUUS - Groot opgewondenheid het onder die 28 lede van die leerlingraad van Voorwaarts Primêr geheers toe hulle Maandagoggend douvoordag in gietende reën vertrek op ’n week lange opvoedkundige toer na Kaapstad.
Die jaarlikse toer, wat sedert 2007 ’n instelling by die skool geword het, bied aan leerders die geleentheid om hul kennis buite die klaskamer uit te brei en van Suid-Afrika se belangrikste besienswaardighede en geskiedkundige plekke te ervaar.
Vanjaar se toer is besonder spesiaal, aangesien dit saamval met die skool se 100ste bestaansjaar - ’n belangrike mylpaal wat die reis nog meer betekenisvol maak.
Tydens die toer sal die leerders onder meer die Kasteel, die Hartmuseum, die Two Oceans-akwarium, Robbeneiland en Tafelberg besoek.
Hulle sal ook die geleentheid kry om die Skiereiland met die Rooibus te verken.
Die leerders word op die toer vergesel deur opvoeders Hazel Steneberg, Petro Arendse, Juney Abrahams en Rodger Brown.
Die week beloof om nie net ’n onvergeetlike ervaring vir die leerders te wees nie, maar ook ’n waardevolle opvoedkundige reis waarin hulle nuwe plekke ontdek, meer oor Suid-Afrika se geskiedenis leer en kosbare herinneringe saam skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’