STILBAAI NUUS - Stilbaai Rolbalklub se Classic-toernooi het op 18 en 19 September rolbalspanne van wyd en syd na Stilbaai gelok. Altesaam 24 spanne het die bane betree in 'n poging om met een van die gesogte pryse weg te stap.
Spanne van Ceres en Langebaan in die Boland, asook Old Oak, Durbanville en die Strand, het kragte gemeet met rolbalspelers van onder meer Riversdal, Groot Brakrivier, Leisure Isle, Hartenbos, George, Ladismith, Witsand en Mosselbaai. Stilbaai is deur vyf spanne verteenwoordig.
Die spanne het Donderdagmiddag geregistreer, waarna hulle met 'n heerlike beker sop en brood verwelkom is. Vrydag het die kompetisie behoorlik afgeskop met drie wedstryde vir elke span.
Teen Saterdag het die beste 12 spanne teen mekaar meegeding en het die kompetisie verder verskerp.
Uiteindelik was dit die Witsand-span, bestaande uit Nico Uys, Marianne Uys, Danie Tredoux en Elsa van der Westhuizen, wat met die pragtige wisseltrofee én die eerste prys van R8 000 weggestap het.
Stilbaai se span, bestaande uit Fanie Lubbe, Wessel Potgieter, Cheryl Worth en Xenny Yasbek, het die tweede plek behaal en 'n kontantprys van R6 000 ontvang.
Die derde plek het aan George se span van Prof Stadler, Tom Strydom, Thea Kriek en Mark Fletcher gegaan, wat met R3 600 beloon is.
Niemand is egter met leë hande huis toe nie, want daar was pryse vir al 24 deelnemende spanne.
Die suksesvolle Classic-toernooi het duidelik gewys dat Stilbaai Rolbalklub se bane en gasvryheid by spelers aanklank vind. Tydens die prysoorhandiging het talle deelnemers reeds aangedui dat hulle beslis in 2027 weer aan die toernooi op die pragtige Stilbaai-bane wil deelneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’