STILBAAI NUUS - Die spanning het Woensdagaand, 25 Februarie, hoog geloop tydens die laaste stel wedstryde om te bepaal watter twee spanne mekaar in die eindstryd gaan pak.
Alhoewel daar geen wedstryde die vorige week plaasgevind het nie, was die spanne behoorlik op hulle tone. Johan Uys het gesorg vir 'n stewige opwarming, want soos organiseerder Friena Müller tong in die kies opmerk: "Onthou julle is nie meer 16 nie."
Eerste op die baan was Fireballs teen Thunder Sisters. Dit was 'n taai stryd, maar Fireballs het uiteindelik met 9 - 5 geseëvier.
Daarna het Game of Throws en 4 en Vlam kragte gemeet. Ook hier was die tempo hoog en die spel intens, met 4 en Vlam wat die oorhand gekry het met 'n telling van 9 - 6.
Dit was boonop die eerste week waarin geen span 'n bonuspunt kon inpalm nie - 'n duidelike bewys van die gelykop mededinging en veggees wat op die baan geheers het.
Die finale puntestand ná die rondes is soos volg:
- Fireballs - 52 punte
- 4 en Vlam - 40 punte
- Thunder Sisters - 36 punte
- Game of Throws - 21 punte
Volgende Woensdagaand, 4 Maart, pak Thunder Sisters en Game of Throws mekaar in die eerste wedstryd om te bepaal wie derde en vierde plek inneem.
Daarna volg die groot eindstryd wanneer Fireballs en 4 en Vlam die baan behoorlik aan die brand gaan speel om te bepaal wie as kampioene gekroon word.
Met soveel "vuur" gelyktydig op die baan sal Friena dalk sommer die brandweer ook nader wil roep!
Ondersteuners word genooi om Woensdagaand, 4 Maart, van 17:30 af die spanne vir oulaas hierdie seisoen te kom ondersteun - dit beloof om 'n vurige affêre te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’