SWEM NUUS - Daar is geen keer aan George se kampioenswemmer Minke Janse van Rensburg (18) nie. Dié toegewyde jong sportster het twee wêreldrekords laat spat by die SA swemkampioenskap wat verlede week en die afgelope naweek in Gqeberha gehou is.
Minke het Donderdagaand, 13 April, vir die tweede keer binne enkele maande haar eie ope wêreldrekord in die 50 m-vryslag gebreek deur haar tyd te verbeter van 34:85 na 34:17.
Saterdag het sy haar tweede rekord van die kampioenskap aangeteken deur die 100 m downsindroom-vryslagwêreldrekord met amper 'n sekonde te verbeter in 'n veelklas-gestremdheidsitem deur eerste te eindig met 'n tyd van 1 minuut 17,61 sekondes.
Kate Allwood, 'n gehoorgestremde swemmer, was tweede en Mia van der Merwe, 'n intellektueel gestremde swemmer, derde.
Minke het ook goud verower in die 50 m-vlinderslag en 'n brons ingepalm in die 100 m-borsslag.
Haar styl het verbeter
"Sy het fantasties gedoen!" was Minke se afrigter, Franna Vorster se kommentaar. "Met hierdie prestasie kan 'n mens duidelik sien hoe sy haar styl verbeter het. Ek is verskriklik trots op haar. Dit is werklik 'n plesier en 'n groot voorreg om haar af te rig. Sy is altyd betyds vir haar oefening, sy doen alles presies soos sy moet. Sy is so entoesiasties en doen alles met soveel oorgawe. By 'n gala is sy ongelooflik, sy weet presies wat om te doen."
Janse van Rensburg het gesê sy dogter het by 'n streng roetine gehou en genoeg rus ingekry tussen items tydens die kampioenskappe. "Sy raak by die dag sterker en is baie gefokus. Haar doel is om by elke byeenkoms beter te vaar. Sy sal altyd haar beste lewer. "
Sy geniet galas en neem haar sport net so ernstig op soos kampioene soos Chad le Clos en Roland Schoeman. Sy assosieer graag met hulle by die groot geleenthede en sal hulle nader om te gaan gesels.
"Sy kyk ook graag swem om te sien wat ander swemmers doen en leer daardeur," het Janse van Rensburg gesê.
Sy is 'n onuitputlike inspirasie en floreer op uitdagings. Hy sê Minke se deursettingsvermoë en mededingendheid het haar van 'n jong ouderdom as swemmer laat uitstaan. Haar eerste afrigter, Sybeth Hughes, het haar op 12-jarige ouderdom by Carpe Diem Skool raakgesien.
Op 13 het sy nasionale kleure verwerf en saam met atlete wat dubbel haar ouderdom is, op die podium gestaan. Haar aanwysing in Maart vanjaar as Suid-Afrika se gestremde sportvrou van die jaar was 'n absolute hoogtepunt in haar loopbaan.
Minke saam met Mia van der Merwe (links) en Kate Allwood. Sy het hulle uitgestof in 'n veelklas-gestremdheidsitem waarin sy die ook die 100m-downsindroom-vryslagwêreldrekord verbeter het.Minke se grootste droom is om 'n goue medalje vir Suid-Afrika van die wêreldkampioenskap af huis toe te bring. Dit is egter teleurstellend dat sy weens die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Intellektueel Gestremdes (Sasa-II) se weiering om haar te ondersteun, nie internasionaal kan deelneem nie, het Janse van Rensburg gesê.
Haar wêreldrekords kan slegs by die Downsindroom Internasionale Swemorganisasie (DSISO) geregistreer word deur Sasa-II, en dit is 'n voorwaarde vir internasionale deelname.
"Die hoof het aan my gesê die liggaam se fondse moet vir sportkodes gebruik word wat meer verteenwoordigend is van die bevolking. Dit het ook nie gehelp toe ons self die fondse kon insamel nie."
Minke kan dus ten spyte van haar prestasies nie internasionaal registreer of deelneem nie. Dit terwyl sy die enigste vroueswemmer is wat sedert die ontstaan van DSISO 20 jaar gelede as junior drie ope wêreldrekords kon verower, het haar pa gesê.
Die sportster word vir haar handtekening gevra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’