Update
HESSEQUA NUUS - Die Ses-aan-'n-kant kriekettoernooi vir KANSA is weer hierdie jaar gereed om kanker vir 'n ses te kolf.
Hessequa-munisipaliteit in samewerking met KANSA gaan van Maandag 1 Oktober tot Vrydag 26 Oktober 'n Ses-aan-'n-kant-kriekettoernooi aanbied. Inskrywings sluit Vrydag 21 September en spanloting sal Sondag 23 September gedoen word.
Besighede en skole word uitgedaag om aan hierdie toernooi vir 'n goeie doel deel te neem. Toerusting sal aan spanne wat nie het nie voorsien word.
Prysgeld vir die wenspan is op die spel en die span met die beste gees sal ook 'n prys ontvang.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het die organiseerder, Ampie Moses, vir sy inisiatief bedank. "Die munisipaliteit is positief oor hierdie toernooi en ons weet dat dit 'n goeie invloed op ons gemeenskap sal hê. Ons sal ook 'n span inskryf en miskien kan ek dit regkry om self 'n ses te slaan."
Die toernooi is afhanklik van skenkings en spanne wat wil inskryf moet 'n donasie van R200 gee. Besighede wat die toernooi wil ondersteun kan donasies aan KANSA maak. Slegs agt spelers per span mag geregistreer word. 'n Speler mag nie vir meer as een span speel nie. Elke span wat inskryf moet 'n naam vir hulle span gee.
Moses het gesê: "Dit gaan nie oor die wen nie. Die samesyn en pret wat daarmee saam gaan is wat tel. Harmonie van die sport en ons mense wat bymekaar kom sal die vreugde wys."
Van links is Leighton Lewak (koördineerder sportontwikkeling), Ampie Moses, James Stanley en Brenda Scholtz (voorsitter) albei van KANSA, Grant Riddels, Raymond Heunis, Johannes Hartnick (onderburgemeester) Ben Smith en Margaret Jakobs. Foto: San-Marié Cronjé
Spanne sal in drie afdelings onderskei word. Hoe meer 'n span wen hoe langer bly hul in afdeling A. Wanneer 'n span verloor skuif hulle na afdeling B en daarna afdeling C.
Vir inskrywingsvorms klik hier.
Spanne wat wil inskryf kan Ampie Moses skakel by 076 777 9327 of Callie Abrahams by 083 543 1124. Vir meer inligting oor stalletjies skakel Brenda Scholtz by 082 825 6341.
Lees 'n vorige artikel hier: 6-uit-6 vir KANSA en Munisipaliteit
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'