STILBAAI NUUS - Die vier spanne wat in die Bertie Barnard Damesliga-netbal meeding, het behoorlik hul voete gevind en Woensdagaand, 11 Februarie, is daar kookwater netbal gespeel.
Friena Müller, organiseerder van die toernooi, het ná afloop van die wedstryde gesê dit het behoorlik op en langs die baan gekook. Die ongelooflike gees en energie was duidelik sigbaar - presies wat hierdie liga so besonders maak.
Volgens Müller raak die kompetisie week ná week sterker. "As 'n mens na die telbord kyk, lyk dit asof elke week 'n verrassing inhou," het sy gesê.
Sy het haar waardering uitgespreek teenoor die skeidsregters, Chantal van der Merwe en Johanna Marais, vir hul hantering van die wedstryde, asook Johan Uys wat die spelers so professioneel en energiek opwarm.
In Woensdagaand se eerste wedstryd het Thunder Sisters met 12 - 9 teen Game of Throws geseëvier. Daarna het Fireballs vir 4 en Vlam met 14 - 7 geklop.
Wat die puntestelsel betref, ontvang die wenspan vyf punte vir 'n oorwinning. Spanne verdien ook 'n bonuspunt vir elke 10 doele wat aangeteken word. Hierdie punte word by die wedstrydpunte gevoeg om die totale puntestand te bepaal.
Op hierdie stadium van die toernooi is Fireballs die span om dop te hou en hulle beklee tans die eerste plek. Thunder Sisters volg in die tweede plek, 4 en Vlam is derde en Game of Throws vierde.
Die volgende wedstryde vind oor twee weke plaas, op Woensdag 25 Februarie, aangesien daar geen wedstryde op 18 Februarie gespeel sal word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’