Charlton Kleinhans en Cameron Smith het tydens die Wes-Kaap Goju Ryu karate kompetisie en die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op onderskeidelik 19 Mei en 25 Augustus in Paarl medaljes verower. Kleinhans het in beide kompetisies silwer verower, terwyl Smith silwer en brons losgeslaan het.
Tydens die naweek van 3 tot 5 Augustus het Kleinhans en Smith, hul afrigter, sensei Almary Rossouw en ander lede van die klub die koue trotseer en 'n Gashuku (oefenkamp) by Kliplala in die Nuyvallei naby Robertson bygewoon. Volgens Rossouw was dit 'n groot eer om weereens saam met die groot name in dié sportkode, onder andere senseis Bakkies Laubscher, Sonia Giliomee en Tertius Naudé skouers te skuur deur met hulle te kon oefen.
"Ons het geweldig baie geleer," het sy entoesiasties gesê. Rossouw het verder genoem dat die studente ook hul gradering gedoen en geslaag het. Hier moet die naam van die sesjarige student, Owen van der Heyde genoem word omdat hy uitstekend gevaar het deur sy geel gordel te verwerf. Sy het al haar studente gelukgewens met hul prestasies.

Die groep studente van die Goju Ryu karateklub het die Gashuku in die Nuyvallei bygewoon. Agter van links staan Chanté Arendse, Laureen Smith, Charlton Kleinhans en sensei Almary Rossouw. Voor van links is Owen van der Heyde, Cameron Smith en Bianca Swart. Henry Hartnick was afwesig tydens die neem van die foto.