SUID-KAAP NUUS - Die belangrikheid van etiese en goeie sportbestuur kan nooit genoeg beklemtoon word nie, maar dit moet nooit uit die oog verloor word dat die wortel daarvan in elke huis begin.
Dit was die kern van die boodskap wat 34 sportfederasies en twee munisipale sportrade aangehoor het.
Die indaba is aangebied in die teaterlokaal van die NMU George-kampus op Vrydagaand 11 Augustus. 110 verteenwoordigers het dit bygewoon.
In sy verwelkoming het prof. Quinton Johnson (NMU-kampusprinsipaal) die belangrikheid van NMU se betrokkenheid in die gemeenskap beklemtoon.
Desmond Speelman, die voorsitter van Eden-sportraad, het in sy openingsrede die belang-rikheid van goeie leierskap aangeraak, terwyl Dave van der Walt, sekretaris van Eden-sport-raad, die rol van grondwette in goeie bestuur onderstreep het.
Prof. Willie van der Westhuizen (Millers Prokureurs), het die invloed van die King IV-verslag behandel.
Na 'n vraag en antwoordsessie gefasiliteer deur die programdirekteur, Bennett Bailey van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, is die volgende resolusies aanvaar:
Dat die Eden-sportraad 'n werksessie oor leierskap aanbied met die fokus op:
1. Opvolgprogramme vir persone om oor te neem wanneer nodig;
2. Federasies en sportrade moet hulle hou by hulle kernbesigheid;
3. Etiese leierskap;
4. Leierskap met morele waardes;
5. Die hervestiging van nasionale, provinsiale en distrikstrots.
Bailey het ook gesê Eden-sportraad moet programme ontwikkel en aanbied wat direk spreek tot goeie leierskap en korporatiewe bestuur beginnende by 2010 program oor nasionale simbole.
"Hierdie kapasiteitsbouprojek is deel van Eden-sportraad se visie om hul lede te bemagtig en is aangebied in vennootskap met Millers Prokureurs (George), NMU (George-kampus] en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport," het Van der Walt gesê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequ nuus'