STILBAAI SPORT NUUS - Toe die Comrades Marathon Assosiasie (CMA) vroeër vanjaar noodgedwonge die ikoniese marathon weens die koronavirus pandemie moes kanselleer, het die bestuur nie in sak en as gaan sit nie.
'n Virtuele wedloop is dadelik beplan en die 'Race The Comrades Legends' sal op Sondag 14 Junie plaasvind.
'n Hele klompie atlete van Stilbaai het ook reeds ingeskryf en Nico Steenekamp, 'n bekende atleet van die dorp hoop om ten minste 20 inskrywings uit die gebied te sien: "Buiten myself en Debbie Fraser vir 10 km, het Marilize van Zyl en Philip van der Berg reeds vir 21.1 km ingeskryf en my vrou Cecile vir 5 km. Anita Aucamp, Johan Uys en Deona Spies sal ook deelneem." Aucamp en Uys was reeds vir die oorspronklike 90 km wedloop geregistreer.
Atlete kan tussen 5 km Couch-2-Comrades, 10 km, 21.1 km, 45 km halfmarathon of die volle 90 km kies en regte Comrades nommers word toegeken.
Volgens die CMA se webwerf het meer as 9 000 atlete vanuit 67 lande reeds ingeskryf en Steenekamp reken dis die ideale geleentheid om familie en vriende by die pret betrokke te kry, terwyl geld vir liefdadigheid terselfdertyd ingesamel word.
Hy nooi belangstellendes om met hom by 083 264 3071 kontak te maak: "Dalk kan ons dit binne die nodige veiligheidsmaatreëls so doen dat ons mekaar darem soms kan sien."
Nico Steenekamp hard aan die oefen.
Nico Steenekamp se Comrades nommer.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'