RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se Protea-toutrekspan is op pad Duitsland toe om hul wêreldtitel die derde keer te verdedig.
Dié wêreldkampioene is ook vroeër vanjaar as die skolespan van die jaar by die jaarlikse SA sporttoekennings aangewys.
Die span en die afrigter, Piet Lourens, is onlangs deur die Hessequa-sportraad vir hul prestasies vereer en is outomaties benoemdes in die groter Eden-distrik se sporttoekennings wat later vanjaar plaasvind.
Die afvaardiging - bestaande uit veertien toutrekkers en hul afrigter, die spanbestuurder, Abrie de Wet, en Ivan van Zyl, die biotegnikus - het op Lentedag, 1 September, van die Kaapstad internasionale lughawe oorsee vertrek.
Dié toer kos die skool en die seuns se ouers sowat R45 000 elk. Danksy ‘n aantal borgskappe deur onder andere John Deere, Massey Ferguson, Klein-Karoo-Saad en SSK kon die finansiële verpligtinge aansienlik verlig word. Hulle kry egter geen finansiële steun op streek-, provinsiale of nasionale vlak nie.
“Dit was ‘n lang voorbereiding. Ons het ‘n jaar lank straf geoefen. Die span is op vorm en ons het ons fiksheid- en kragdoelwitte bereik. Die spangees is baie positief en die manne is oorgehaal om ons wêreldtitel suksesvol te verdedig,” verseker die afrigter.
Suid-Kaap Forum sal die span tot in Manheim, Duitsland, volg en gereeld verslag oor hul aktiwiteite lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’