Update
STILBAAI NUUS - Dié twee appels val nie ver van die bome af nie. Of dalk is dit meer 'n geval van aartjies na hul vaartjies, maar een ding is seker: die adrenaliengogga het dié twee jongmanne behoorlik gebyt en nou toor hulle met hul rubberboot in die branders.
Kyk mens na die amperse meteoriese opgang wat Franco Jacobs (17) en Carlo Johnson (15) sedert 2022 in rubberbootwedrenne in Suid-Afrika gemaak het, dring die besef deur dat die twee skoolseuns aan die vooraand staan van 'n opwindende loopbaan.
Dit word onderstreep deur die aankondiging dat hulle in die afdeling waarin hulle meeding vir Springbokkleure gekwalifiseer het ná 'n seisoen waar hulle talle gesoute jaers uitgestof het.
Die Groen en Goud sal tydens die wêreldkampioenskap in Februarie 2024 in Port Elizabeth aan hulle oorhandig word.
Dit gebeur nie aldag dat nasionale kleure in dié taai en uitdagende sportsoort aan twee relatiewe jongelinge toegeken word nie en is beslis erkenning vir hul toewyding en deeglike voorbereiding.
Die twee jongmanne het aanvanklik as 'n naweektydverdryf saam met hul pa's, Frantz Jacobs en Evan Johnson, met hul rubberbote in die water baljaar, maar die gogga het behoorlik gebyt toe hulle mededingend begin deelneem het - iets wat albei seuns terdeë geniet het.
En sommer gou-gou het hulle die aandag op hulself gevestig met 'n paar puik vertonings wat menige gesoute deelnemer en 'n paar harde baarde deeglik van hulle laat kennis neem het.
Frantz Jacobs, Franco se pa, het in 2015 en 2016 aan die Trans Agulhas deelgeneem en dit suksesvol klaargemaak. Sedertdien staan die pencil duck in die garage in Stilbaai en ry pa en seun sommer vir die pret soms branders in Stilbaai oor naweke en vakansies.
Maar in 2022 het hulle saam besluit dis tyd vir 'n nuwe boot en meer mededingende rubberbootwedrenne aangesien Franco nou die regte ouderdom is. En só het die dinge begin.
In 2022 was Franco medeloods op die S-53 saam met sy pa terwyl Carlo en sy pa op S-66 die branders getem het. Die S-53 het tydens die Trans Atlantic en Dasseneiland 2022 onderskeidelik derde en eerste geëindig.
In 2023 het Franco en Carlo in alle erns begin deelneem op hul S-19 met Carlo die medeloods en Franco as loods.
Die twee is tans die jongste span in SA met Frantz Jacobs se maatskappy, Cooline Logistics, as hul borg.
Franco is in die koshuis by Hoër Landbouskool Oakdale so hulle kan net oor naweke tussen rugbyoefeninge en ander verpligtinge deur oefen.
Carlo volg tans die IGCSE Cambridge-kurrikulum.
Beide die pa's het ook steeds hul bote en ry in van die uitdagings teen die seuns.
Albei seuns geniet die adrenalien wat gepaardgaan met die sport en hulle beplan om einde Oktober aan die vierdaagse Trans Atlantic, wat strek oor 400 km, deel te neem én dit te voltooi.
Ná die eindronde van die nasionale wedren wat in September op Theewaters-kloof-dam plaasgevind het, is die twee jong manne genader deur Mako Marine Africa om aanstaande jaar vir die Mako-fabriekspan deel te neem.
Die eienaar van Mako Marine Africa, Mark Louw, is 'n broer van die bekende oud-Springbok Rob Louw, wat self menige bootresies gery en gewen het. Mark sê hulle is baie opgewonde om die twee talentvolle jong manne in die Mako-span te verwelkom.
Foto verskaf
Franco en Carlo se uitslae vanjaar lyk as volg:
Amanzi-uitdaging in St Francis:
- 3de in hul afdeling.
King of the Waves:
- (Dag 1) 1ste plek.
- (Dag 2) 2de plek.
Iceblock op die Vaaldam:
- 3de in hul afdeling.
Theewaters National:
- 2de in reeks (circuit).
- 3de in Langafstand (longhaul).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’