SPORT NUUS - Covid-19 het nou wel sportaktiwiteite wêreldwyd gehok, maar atlete laat hulle nie onderkry nie en bedink allerhande planne om aktief te bly.
Dis veral die pad- en veldatlete wat tydens die inperking hul frustrasies lug deur paaie in hul grasperke te hardloop.
André Oosthuizen, 'n lid van die Garden Trail Running Club, is 'n atleet wat die kans aangegryp het om 'n maraton in sy tuin in George aan te durf. Sover ons kon vasstel, was hy die eerste atleet in die Suid-Kaap om dié 42 km in sy tuinroete kaf te draf.
André, wat al 12 maratons agter die blad het, het aan George Herald vertel dat hy vooraf opgewarm het toe hy oor vier dae 'n maraton kaalvoet aangepak en voltooi het.
"Dit was die makliker manier om dié afstand in vier sessies op te deel. Om dit kaalvoet te doen, was die groot uitdaging en my voete was agterna maar gaar.
"Ek het twee dae afgeneem en toe die maraton met mening gepak en in 'n raps net oor die ses uur voltooi.
"Ek het die oggend om seweuur aanvanklik kaalvoet weggespring, maar later my drafskoene aangetrek om my voete te spaar."
Dié einste skoene het al meer as 2 000 km afgelê en hy reken 'n skoenborg kan hom met 'n geruste hart nader in die wete dat hy hulle nie sy voordeur sal wys nie.
André sê sy gunsteling terrein om op te oefen of aan 'n wedloop deel te neem, bly in die berge. "Ek verkies dit bo padwedlope, want dit bring weer die kind in 'n mens uit. Ek geniet dit baie meer as om op teer te draf en dis boonop baie veiliger."
Hy draf weekliks van sy huis in Denneoord na Vensterberg, sy gunstelingpiek.
"Dis 'n 2,5 km roete, met 'n 500 m klim en die uitsig is asemrowend daar van bo af." Hy draf ook gereeld na Tierkop en oor naweke probeer hy om sowat 25 km af te lê. André het ook al die Outeniqua Quest, 'n 108 km-wedloop wat van Hoekwil na Plettenbergbaai strek, voltooi. André sê met dié mylpaal in sy tuinroete het hy weereens besef mooi hardloopklere, duur skoene en allerhande eet- en drinkgoed is nie bepalend of selfs noodsaaklik vir sukses in 'n maraton nie. Die meeste krag sit in jou kop."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'