RIVERSDAL NUUS - Een van die hoogtepunte op Riversdal se dorpskalender is die jaarlikse Akkerfees en die interskole-byeenkoms tussen Hoër Landbouskool Oakdale en Hoër Landbouskool Boland wat Vrydag 18 Augustus begin.
Hoogtepunte Vrydag is die gholfwedstryd tussen die twee skole by die Riversdal-gholfklub wat reeds om 09:00 begin. Dit word opgevolg deur die bergfietsryers wat mekaar van 14:00 af op die Oakdale-resiesbaan gaan aandurf.
Die netbalmamma's speel om 15:00 teen mekaar en om 16:30 is dit die rugbywedstryd tussen die skole se oudskoliere op De Eike wat die mense in hul hordes gaan trek.
Maar natuurlik is dit die interskole-kragmeting teen Boland wat die groot trekpleister is.
Die rugby op Saterdag se program tussen die skole se o.16A-spanne skop om 08:30 af. En om 13:00 breek die tyd aan wanneer Die Bulle hul eweknieë van Boland wil wys hoe om die ovaalbal te hanteer.
Die Akkerfees, wat reeds vroeër die week begin het, word Saterdag afgesluit met die Oakdale-plaasmark by die skool waar allerlei lekkernye, soos vars vrugte en groente, talle vleisprodukte en hope ander eetgoed te koop aangebied word.
Riversdal gaan uit sy nate bars.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’