Video
STILBAAI SPORTNUUS EN VIDEO - Die adrenalien het Saterdag, 13 November behoorlik gepomp toe 155 veldmotorfiets-entoesiaste vir die derde Funduro op Stilbaai ingeskryf het.
Die roete van 60km strek oor 10 plase ongeveer 15km buite Stilbaai net voor jy Putstop kry en sluit drie rooi sones in waar jou vernuf behoorlik getoets word. Dit bestaan uit 70% sand en 30% klip.
Die organiseerders, Hendrik Visser en Anton Botes het uit hulle pad gegaan om die roete so uit te lê dat dit interessant en vol uitdagings bly. Veiligheid is in ag geneem en daar was geen ernstige beserings nie.
Heelwat gesinne het deelgeneem en gesoute ryers, sowel as die gewone entoesias kon dit aanpak. Onder die deelnemers was Ferdinand Rabie, bekende televisiepersoonlikheid en avontuursoeker. Sy negejarige seun, Christian het ook deelgeneem. Volgens Rabie is hy verseker volgende jaar weer terug om deel te neem.
"Dit is 'n pragtige en lekker roete wat goed uitgelê is. Wat my opgeval het, is die feit dat as gesoute ryers jou sien sukkel, help hulle onmiddellik en sleep jou selfs uit die moeilikheid uit."
VIDEO: Aksie met Stilbaai Funduro
'n Funduro het nie wenners nie, daarom kompeteer deelnemers net teen hulself en die elemente.
Ryers kon kies om die rooi sones te vermy, maar meeste het dit met gemengde welslae en soms gekneusde egos aangedurf. Die roete word met 'n hindernisbaan afgesluit waar die ryer sy motorfiets oor boomstompe in 'n sanderige omgewing moet kry en hulle is behoorlik getoets.
Die roete is op privaatgrond uitgelê, daarom kan dit slegs tydens die Funduro gery word en die talle ryers, waarvan sommige uit die Oos- en Noord-Kaap gekom het, sal moet wag tot volgende jaar om dit weer aan te durf.
Heelwat van die ryers en hulle gesinne het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om bietjie by die see uit te span wat 'n goeie finansiële inspuiting vir die dorp gebied het.
Die organiseerders bedank Hessequa-munisipaliteit wat die brandweerdiens en verkeer beskikbaar gestel het vir die geleentheid.
Visser en Botes beplan reeds aan 2022 se Funduro en volgens hulle beloof dit om 'n nog groter geleentheid te wees.
Ferdinand Rabie, bekende televisiepersoonlikheid en sy seun, Christian.
Vorige artikel: Volop aksie met Funduro
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'