STILBAAI NUUS - Twee Stilbaaiers, Alwyn Vorster en Branko Celica, het 62 ander Sages-spelers van die Suid-Kaap behoorlik ore aangesit in die jaarlikse Beterbal Stableford-gholfkompetisie om die Hennie Huyser-trofee.
Die suidwestewind het van vroegoggend lekker sterk begin waai en dit het later gevoel of 'n telling van naby 40 genoeg gaan wees om die trofee te wen.
Met hul telling van 46 was hulle los onder almal uit en kan hulle met reg as die windtemmers van die dag beskou word.
Die Stilbaai-gholfklub se gasvryheid is wyd bekend en die spelers is vroegoggend al met 'n heerlike ontbyt getrakteer, vertel Marius Loubser van die Sages. "Baie dankie aan die administratiewe personeel van die gholfklub vir hul organisasie en puik reëlings. Dit bly 'n voorreg om daar te kan speel."
Die volgende pare het ook onder die bestes van die dag geëindig:
1. Alwyn Vorster en Branko Celica (Stilbaai) 46.
2. Rodney Page en Bruce Waldek (Stilbaai) 42.
3. Pine Pienaar en Piet van Wyk (Stilbaai) 42.
4. Daan Botes en Peet Duncan (Stilbaai) 41.
5. Stoffel en Breggie Maritz (Mosselbaai) 41.
6. Max Dockel en Daan Toerien (Stilbaai) 40.
7. Vince Bruwer en Danie Terblanche (Mosselbaai) 39.
8. Pieter Potgieter en Karel Lewis (Stilbaai) 38.
Die naaste aan die penne, geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Chris Barnard van Mosselbaai op 2 en11 en Stoffel Maritz op 8 en 17.
Die Suid-Kaap Sages se laaste byeenkoms is op 6 Desember op Riversdal wanneer die spelers om die Bertus Louw-trofee gaan meeding. Die wenner daar word as die enkelspelkampioen vir 2022 beskou.
Die topdrie wenners in Stilbaai. Van links: Rodney Page, Bruce Waldek, Pine Pienaar, Piet van Wyk, Nic Marais, Alwyn Vorster en Branko Celica.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'