STILBAAI NUUS - Stilbaai-gholfklub het ná 'n afwesigheid van 12 jaar weer onlangs 'n uiters suksesvolle vrouedag aangebied.
Dave Gravett, president van Stilbaai- gholfklub, was duidelik opgewonde oor die toernooi en het gesê dat Susan Buys, die klub se vrouekaptein, en haar komitee hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het.
Susan sê dat hierdie toernooi gewis weer 'n jaarlikse instelling gaan word en dat vrouegholf baie baat uit 'n toernooi soos hierdie.
Heelwat borge het aan boord gekom en daar was volop en groot pryse op die spel.
Met 64 dames was die baan vol en die beterbal-formaat het gesorg vir heelwat opwinding, terwyl die Inverroche- en Spar-natgate groot aftrek gekry het. Daar was selfs 'n tema, Nautical, en heelwat spelers het moeite gedoen met hulle drag. Uiteindelik het Adéle Earle en Mariana Melville van Oubaai weggestap met die prys vir besgeklede dames.
Terug in die klubhuis was dit tyd vir die prysoorhandiging en 'n heerlike middagete. Die dames was heel duidelik in 'n baie goeie bui en die gees was aansteeklik.
Gill Smith van Stilbaai en haar spanmaat Aletta Vorster van Pretoria het met 46 punte die kompetisie gewen en het elkeen weggestap met 'n splinternuwe gholfsak.
In die tweede plek was Janet Ristow en Melinda Swart van Stilbaai, wat twee reuse- pakke skaapvleis gewen het.
Melinda Gravett van Stilbaai-gholfklub, slaan af.
Die twee besgeklede dames met hulle Nautical-tema is Adéle Earle en Mariana Melville van Oubaai.
Girland Julies maak seker dat Yolandi van der Westhuizen van George die natgat geniet.
Yvette du Plessis van Stilbaai-gholfklub hou haar afslaan stip dop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’