HEIDELBERG - Die St. Barnabas Anglikaanse Kerk in Heidelberg het op Saterdag 15 Augustus sy jaarlikse gholfdag by die Heidelberg-gholfklub aangebied.
Die gholfdag is as 'n fondsinsameling aangebied ten bate van die instandhouding van die historiese kerkgebou, wat reeds in 1889 gebou is.
Die kerk is nie net 'n belangrike deel van Heidelberg se geloofsgemeenskap nie, maar ook van die dorp se geskiedenis. Die mees suidelike skermutseling tydens die Anglo-Boereoorlog het in 1901 reg tussen die kerk en die hotel plaasgevind, toe Jan Theron se kommando oor die Gysmanshoekpas gery en die dorp aangeval het.
John Michaels en Francois Malowitz van Stilbaai het as die wenners van die gholftoernooi uit die stryd getree. Elkeen het met 'n lam, geborg deur BezUys Slaghuis, weggestap.
Die organiseerder, Julian Buis van die JG Buis Foundation, het namens die kerkraad sy dank uitgespreek teenoor BezUys Slaghuis, al die putjieborge en almal wat donasies gemaak het.
Die gholfdag het weereens gewys wat bereik kan word wanneer 'n gemeenskap saamstaan om sy erfenis te bewaar.
Die ondersteuning van die gemeenskap help om te verseker dat die pragtige St. Barnabas-kerkgebou, met sy ryke geskiedenis, ook vir toekomstige geslagte bewaar kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’