TUINROETE NUUS - Wanneer die Suid-Kaapse Sagesspelers Stilbaai besoek, kan mens altyd uitsien na 'n goedgeorganiseerde byeenkoms en 'n gasvrye ontvangs.
As die weer ook nog saamspeel soos op Maandag, 17 Julie, is dit nog 'n groter bonus om daar gholf te speel. Die baan is lowergroen ná die onlangse reën en die skoonvelde lyk soos groen tapyte.
'n Totaal van 56 Sages-lede het aan die vierbal-samespelkompetisie op Stilbaai deelgeneem op die sogenaamde "Waltzing Mathilda"- formaat.
Dit beteken dat die beste Stablefordtelling onder die vier spelers op putjie 1 tel, twee s'n op putjie 2 en drie op putjie 3. Dan word die proses herhaal tot die 18 putjies voltooi is.
Uitslae
Die volgende spanne het die meeste punte aangeteken:
1. Susan Buys (Stilbaai), Kwartus Sieberhagen (Mosselbaai), Marius Loubser (Boggomsbaai) en Chris van den Berg (spookspeler) 91 punte.
2. Charl Marais en Pinoc Jacobs (Stilbaai), Denzel Geldenhuys (Riversdal) en Freddie Stander (Boggomsbaai) 90 punte.
3. Lee Lippiatt en Tony Postma (Stilbaai), Tony Muller en Chris van den Berg (Mosselbaai) 88 punte.
4. Thys Cronje, Mart Cronje, Branko Celica en Peet Duncan (Stilbaai) 87 punte.
5. Alwyn Vorster en Bruce Waldek (Stilbaai), Martin en Eleonor Speelman (Mosselbaai) 87 punte.
6. André Bezuidenhout, Janet Ristow, Melinda Gravett en Gary Ristow (Stilbaai) 86 punte.
7. Willie Roos, Pieter Potgieter, Willie Albertyn en Karel Lewis (Stilbaai) 84 punte.
8. André Beukes en Andries van Schalkwyk (Boggomsbaai), Dirk Bosman en John Gillespie (Stilbaai) 84 punte.
Die naaste aan die penne was Hendrik Cronje (Stilbaai) op 2/11 en Branko Celika (Stilbaai) op 8/17 en hulle het elkeen weggestap met 'n heerlike pak wors van JC Slagtery in Riversdal. Chris van den Berg (Mosselbaai) en Martin Speelman (Mosselbaai) het albei spogtwees aangeteken.
Die volgende Sages-saamtrek is die uitgestelde Kansadag op Mosselbaai op 7 Augustus.
Meegevoel
Die Suid-Kaap Sages het met groot hartseer kennis geneem van die afsterwe van een van sy jarelange lede, Tannah Harris, en betuig dan ook hul innige meegevoel met sy vrou, Berti. Hulle betuig ook meegevoel met die familie van Donald Bokkelkamp van Riversdal ná sy skielike dood. Mag beide families berusting vind.
Die volgende nuwe lede word in die Suid-Kaap Sagesfamilie verwelkom; Johan Verster van Mosselbaai, Henry Namann, Avril Kruger en Freddie Linder, almal van Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’