RIVERSDAL NUUS - Plaaslike kennis en 'n tuisveldvoordeel dra definitief gewig. Dit kon 'n mens verlede Donderdag, 17 Oktober, weer sien toe 46 Sages-spelers van die Suid-Kaap in Riversdal in ’n Beterbal Stableford-kompetisie meegeding het.
Die twee plaaslike spelers Basie Nortjé en Charl du Randt het die punte opgestapel, terwyl die besoekers tot laat in die dag gesukkel het met die stadige setperke.
Ná die heerlike reën van verlede maand is Riversdal se gholfbaan 'n groen lushof en die grassnyers moes oortyd werk om die skoonvelde reg te kry. Die baanpersoneel verdien beslis applous vir die voorbereiding en die klubbestuur vir hul vriendelike ontvangs van al die besoekers.
'n Groot dankie ook aan JC Slagtery wat die worspryse vir die naaste aan die penne en die bottel wyn vir die Kansa-loting geborg het.
In die Beterbal-kompetisie is daar ook om die Hennie Huyser-trofee meegeding.
Die volgende pare die beste gevaar:
1. Basie Nortjé en Charl du Randt (Riversdal) 45 en wenners van die Hennie Huyser-trofee.
2. Philip Claase en Gert Brink (Mosselbaai) 43.
3. Colin King en Tony Turbiglio (Stilbaai) 43.
4. Davey Roberts en Denzil Geldenhuys (Riversdal) 43.
5. Harry van Zyl en Kwartus Sieberhagen (Mosselbaai)) 43.
Naaste aan die penne is gewen deur Pieter Potgieter (Stilbaai) op putjies 4 en 13 en Koos Eksteen (Riversdal)) op putjie 8. Branko Celica (Stilbaai) en Kwartus Sieberhagen is die enigste spelers wat spogtwees aangeteken het.
Daar is 20 Suid-Kaapse Sages-spelers wat gekies is om op 5 en 6 November op Fancourt aan die Kaapse streekkampioenskappe te gaan deelneem.
Die laaste Sages-byeenkoms van die jaar vir die Suid-Kaap is 'n IPS-kompetisie in Stilbaai op 2 Desember.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’