Donderdag, 22 November het hul 'n gala-aand in die klubhuis gehou waartydens almal gesellig verkeer het. Welbekende Koos van Rensburg het opgetree as seremoniemeester en het ook die veiling van die wyne hanteer.
Die vier bottels wyn is spesiaal gebottel deur Jakkalsvlei Wynkelders, net buite Albertinia vir die 100ste bestaansjaar vieringe van die gholfklub. Johan Nortjé, klubkaptein van Riversdal Gholfklub het die verwelkomings behartig. Staaltjies uit die verlede is deur sommige van die spelers wat al baie jare lank lid is van die gholfklub vertel. Die staaltjies het gesorg vir 'n skaterlag onder die bestuur, lede asook die spesiale gaste.
Burgemeester, rdl. Emor Nel en haar gade, mnr. Dolf Nel was onder die eregaste by die spesiale geleentheid. Mev. Nel het tydens haar toespraak die bestuur en almal betrokke by Riversdal Gholfklub gelukgewens met die pragtige gholfbaan en gesê dat dit vir almal 'n wonderlike voorreg moet wees om 100 jaar te word en die klub in so goeie toestand te hou.
Sy het na almal betrokke verwys as 'n klomp vasbyters wat nie moed opgee nie en wat met deursettingsvermoë baie dinge oorbrug het, en op hierdie manier Hessequa se naam hooggehou. Sy het later die aand saam met Anton Swart, hoofborg (insluitend Hessequa Abbatoir, JC Slagtery en Max Baise Bottelstoor) van Riversdal Gholfklub die nuwe donateurs-bord onthul.
Tydens die geleentheid het twee lede ere-toekenningsertifikate ontvang, naamlik Nel Mulder en Peter Rudd.
Nel Mulder het toekenning ontvang as ere-president en die sertifikaat is toegeken aan hom vir sy 48 jaar verbintenis aan die Riversdal Gholfklub, waartydens hy die klub op 'n onbaatsugtige wyse gedien het in die volgende hoedanighede: Hy word lid in 1964; dien as kaptein in 1979; vanaf 1984 tot 1987 dien hy as president; in 1989 word hy verkies as ere-president; hy wen die Senior Trofee in 2001 en in 2008; Mulder dien ook as die baanmeester vir die afgelope 25 jaar.
Peter Rudd het sy toekenning ontvang as ere-lid en die sertifikaat is aan hom toegeken vir sy 38 jaar verbintenis aan die Riversdal Gholfklub, waartydens hy die klub op 'n onbaatsugtige wyse gedien het in die volgende hoedanighede: In 1974 word hy lid; hy dien as hulp-sekretaris vanaf 1978 tot 1983, vanaf 1983 tot 1987 dien hy as tesourier; vanaf 1988 tot 1989 dien hy as kaptein en dien as president vanaf 1993 tot 1997; in 2002 wen hy die Senior Trofee. Rudd het ook die 8ste putjie ontwerp en gebou in 1983.
Saterdag, 24 November is die groot gholftoernooi, genaamd die Riversdal Centenary Classic aangebied waaraan meer as 100 spelers van regoor die hele Suid-Kaap deelgeneem het. Die wenners van die toernooi is soos volg: Die span van Koos van Rensburg het eerste plek ingeneem en het bestaan uit Koos van Rensburg, F. Erasmus, G. Pienaar en G. van Molendorf. In die tweede plek was die span van Peter Rudd en het bestaan uit homself, J. Swanepoel asook Aletta en Thys Sutherland. Derde was die span van A. Damon wat ingesluit het M. McKelly, K. Keyser en D. Sauer.

Van links is mnr. Dolf en rdl. Emor Nel (burgemeester), Johan Nortjé (klubkaptein van Riversdal Gholfklub) en sy vrou, Alta. Die tafels by die gala-aand vir Riversdal Gholfklub se 100ste bestaansjaarvieringe is pragtig opgetower deur Koba en helpers. Die heerlike aansit-ete is voorberei en bedien deur Henna.

Anton Swart (hoofborg) en sy vrou, Adri by die gala-aand. Adri het die dag haar verjaarsdag gevier, maar dit glad nie ontsien om dit saam met die Riversdal Gholfdag te vier nie.