GHOLFNUUS - Die gesogte Stigtersbeker wat in die jaarlikse Sages-gholftoernooi tussen die Suid-Kaap en Outeniekwa op die spel is, het ná vyf jaar weer van hande verwissel.
Outeniekwa, onder leiding van hul nuwe sekretaris, Jimmy Steele en hul nuwe voorsitter, Jan van Wyk, het 'n groot poging aangewend om op die George-baan op Valentynsdag die beker te herower nadat dit sedert 2018 in die Suid-Kaap se trofeëkas gestaan het.
Outeniekwa het die Suid-Kaap met 'n skrale 38,77 Stablefordpunte teenoor 38,51 geklop.
'n Allemintige 124 spelers - die meeste nog die afgelope 11 jaar - was in aksie wat 'n groot pluimpie is vir die organiseerders. Die baan was in 'n uitstekende toestand.
Die Stigtersbeker is in 1998 begin toe die Outeniekwa Sages-unie te groot geraak het en die Suid-Kaap afgestig het. Daarna het hulle jaarliks teen mekaar meegeding, behalwe in 2009 toe reën spel verhoed het en in 2020 toe die Covid-pandemie toegeslaan het.
Outeniekwa het die meeste van die tyd die botoon gevoer, maar Suid-Kaap het sedert 2018 die bordjies verhang met 'n lopie van vier oorwinnings in 'n ry.
PSG het aan die begin van 2023 aangedui dat hulle voortaan by die Sages op nasionale en provinsiale vlak betrokke gaan raak en Ian Schmidt, 'n lid van die PSG-groep, het die dag bygewoon en ook gehelp om die pryse uit te deel.
Eden Valley Wines buite Mosselbaai het aan elke speler 'n gratis wynproe vir twee mense gegee.
Uitslae
In dié Beterbalkompetisie het die volgende pare die beste Stablefordpunte gehad:
- Sakkie Loock en Eddie Daacke (SK) 47;
- Martin en Eleonor Speelman (SK) 47;
- Japie van der Westhuizen en Almero de Lange (O) 45;
- Bennie Mintoor en Denzil Geldenhuys (SK) 45;
- Jan van Wyk en Marius Dunn (O) 45;
- Eric Walker en Colin Perry (O) 44.
Naaste aan die penne is gewen deur Pine Pienaar (SK) op die 6de, Denzil Geldenhuys (SK) op die 13de, Wessel Oosthuizen (SK) op die 15de en Almero de Lange (O) op die 17de.Die volgende spelers het spogtwees behaal: Pine Pienaar, Denzil Geldenhuys (2), Marius Loubser (SK), Wessel Oosthuizen, Wynie Strydom (O) en Bossie Boshof (SK).
Die Suid-Kaap speel in 2024 op Mosselbaai gasheer vir die 2024-toernooi waar die "wedywering" en kameradie voortgesit sal word.
Die wennerspaar, Eddie Daacke en Sakkie Loock, saam met Jan van Wyk, voorsitter van Outeniekwa, en Ian Schmidt van PSG.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'