ALBERTINIA NUUS - Huppelland-kleuterskool lewer sedert 1986 'n besondere diens aan die kinders van die gemeenskap.
''Ons probeer die kinders aan soveel moontlik uitstappies en aktiwiteite blootstel. Omdat ons die skoolfonds so laag as moontlik probeer hou, is ons genoodsaak om deur die jaar fondsinsamelings te hou,'' verduidelik Irma Kemp.
Een van hul groot fondsinsamelings is hul jaarlikse gholfdag en vanjaar bied hulle 'n 4 BBB byeenkoms op Saterdag 3 Maart by die gewilde Albertinia gholfbaan aan.
''Hiermee wil ons aan u die geleentheid bied om een van die borge van die dag te wees. Enige bydrae is welkom.
"Ons benodig pryse of geskenkbewyse om aan die gholfspelers uit te deel, items in die geskenkpakkies te sit of enige ander vorm van ondersteuning.''
Borge is welkom om hul visitekaartjies te gee om in die geskenkpakkies te sit. Hul name word ook tydens die gholfdag by die klubhuis geadverteer.
Besighede en die gemeenskap is welkom om 'n span in te skryf.
''Vir kostes of enige navrae, kontak ons gerus of besoek die skool om self te kom kyk watter wonderlike werk met ons dorp se kinders gedoen word,'' nooi sy.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'