RIVERSDAL GHOLF NUUS - Die Evangelies Lutherse Kerk het op 17 November hul agtste jaarlikse gholfdag gehou.
'n Aantal van 92 spelers van oor die land het ingeskryf, waaronder Kaapstad, Swellendam, Hermanus, Mosselbaai, Laingsburg en vanjaar was daar selfs nog meer spelers vanaf Johannesburg. Dié gholfdag het homself op die Riversdal-gholfklub se kalender gevestig, maar veral onder die spelers, omdat van hulle reeds aangedui het dat hulle volgende jaar weer sal deelneem.
Die klubkaptein, Faffa Marais het tydens die prysuitdeling die kerk geprys vir die gholfdag wat elke jaar op 'n puik manier deur hul reëlingskomitee georganiseer word. Hierdie jaar was Avbob weer die hoofborg en hul insette en bydraes tot die dag voeg baie waarde by.
Die dag se spel is gewen deur R Jansen en I Jansen van Hermanus. In die tweede plek was past. Calvin Vilander en Charles Brink van Johannesburg.
Tydens die prysuitdeling is Frikkie Herling en Keano Hendricks as die bes geklede span aangewys met hul opmerklike pienk sokkies. Al die spelers het 'n prys ontvang en verskillende items is opgeveil. Na die dag se verrigtinge is almal met verskillende soorte potjiekos bedien.
Sondagoggend het die gemeente 'n dankseggingsdiens gehou en die gasprediker was past. Calvin Vilander.
Die kerk bedank almal wat soveel ingesit en bydraes gegee het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'