Update
RIVERSDAL GHOLF NUUS - Riversdal-gholfklub se lede is besig om hul gholfvernuf op te knap met die klubkampioenskap wat eersdaags plaasvind.
Gholfspelers sal Donderdag, 24 September om die titel as die 2020-klubkampioen meeding.
Die verdedigende klubkampioen, Garnet Damans is vol vertroue dat hy weer met die trofee gaan wegstap. "Ek gaan my titel verdedig en daar is geen manier dat ek dit gaan afstaan nie," sê hy. Dit is Damans se 18de jaar wat hy by dié gholfklub speel. Hy het die klubkampioentitel nog net een keer gewen.
Die afgelope naweek is weereens gholf van uitstaande gehalte gelewer. Frans Myburg en Frikkie Guyser het Vrydag, 11 September op 'n 19 punt uittel die eerste twee plekke ingeneem. Myburg is op die uittel as die wenner aangewys. Grové Koch het op 18 punte die derde plek ingeneem.
Die kompetisie was Saterdag, 12 September ook taai, met Marco Olivier se 35 punte in die Enkel Stableford-kompetisie wat hom die eerste plek verseker het. Mark Stander (34 punte) het die tweede podium posisie ingeneem.
Vorige artikel: Riversdal-gholfklub se klubkampioenskap om die draai
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'