Update
HESSEQUA NUUS - As dit by polisiewerk kom, is sers. Garnet Damans een van Hessequa se bestes. Vra maar 'n paar kriminele wat hy al vasgetrek het.
Maar dis op die gholfbaan waar hy uitmunt en hom as een van dié streek se voorste amateurs gevestig het.
So pas weer by die polisie se nasionale kampioenskap, wat by Plettenbergbaai aangebied is, is Garnet as hul nasionale kampioen gekroon. Hy beklee ook met reg nou die nommer een posisie op die polisie se nasionale ranglys.
In Plettenbergbaai het 50 spelers uit elke provinsie aan die kampioenskap deelgeneem. Elke span van vyf spelers moes uit vier mans en 'n vrou bestaan.
Garnet het die Wes-Kaap verteenwoordig en hy is ná afloop van die kampioenskap in die polisie se nasionale span opgeneem wat in Februarie aanstaande jaar aan die intermagte toernooi in Bloemfontein gaan deelneem.
Die Wes-Kaap het ook goud gewen en het as die topspan by die kampioenskap afgesluit.
Hy het ook die SWD se Mid-amateurspan gehaal wat van 8 tot 13 Oktober by die Redding-gholfklub aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gaan deelneem.
Garnet het in 'n onderhoud aan Suid-Kaap Forum gesê ure op die Riversdal-gholfbaan het hom geslyp om die prestasies te behaal.
"Gholf is nou een sport wat jy nie net een of twee keer per maand kan beoefen nie. Dit verg weeklikse rondes op 'n baan."
Hy was vol lof vir Melt Hamman, 'n direkteur van Nexus, wat met sy ruim ondersteuning van die Wes-Kaapse span tot hul sukses bygedra het.
"Daar was ook groot ondersteuning uit Riversdal, veral van die Riversdal-gholfklub se lede. Ek is ook dankbaar vir my vrou Jo-ann, en my ouers se onvoorwaardelike ondersteuning."
Die SA Polisie se Wes-Kaapse gholfspan wat by hul nasionale kampioenskap in Plettenbergbaai goud gewen het. Heel regs staan Riversdal se sers. Garnet Damans.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’