Update
STILBAAI GHOLF NUUS - Rassie du Plessis kan sekerlik op 'n uitsonderlike prestasie roem, naamlik dat hy al 56 keer sy ouderdom op die gholfbaan geëwenaar of verbeter het.
Oom Rassie, soos hy alom bekend is, het op 3 Julie sy 88ste verjaardag gevier.
Volgens Charl Marais, komiteelid, beskou dié afgetredene die prestasie op die gholfbaan nie as uniek nie en hy wil dit nie aan die groot klok hang nie.
Hy het in 1953 begin gholf speel. Weens werksomstandighede in die staatsdiens kon hy nie dikwels speel nie, maar van 1964 af het hy meer gereeld tyd gekry. Sy oefenmetodes was so uniek soos hy, want sy oefenballe was emmers vol akkers.
Hy het onder meer vir die parlement se presidentspan gespeel en mettertyd tot 'n 4-voorgee gevorder - wat reeds 'n groot prestasie is.
Teëspoed met sy gesondheid het hom ook nie ondergekry nie. Na 'n skoueroperasie kon hy byvoorbeeld nie meer so lekker deurswaai nie. Hy het geoefen om rapshoue met net sy regterhand te speel, en tot vandag toe doen hy dit steeds beter as baie met twee hande. "Dit is egter sy prestasies sedert hy einde 1993 op Stilbaai kom aftree het, wat die verbeelding aangryp. Ten spyte van verskeie operasies, insluitend rug-, knie- en skoueroperasies, het hy met stille deursettingsvermoë sy lewensfilosofie uitgeleef, naamlik dat dit jou keuse is hoe jy jou lewensomstandighede aanvaar en hanteer. 'Leef positief!' is sy slagspreuk," sê Marais.
Terwyl ander bejaardes se speelvermoë met die jare afneem, is oom Rassie soos rooiwyn - hoe ouer, hoe beter. Hy speel tans twee keer per week van 'n 14-voorgee af, wat op sy ouderdom glad nie sleg is nie.
Stilbaai-gholfklub is trots op hierdie uitsonderlike lid. Deur die jare het hy ook sy kant as komiteelid en nou ook as erelid gebring. Hy bly 'n voorbeeld vir oud en jonk en ons eer hom en wens hom nog verskeie sub-ouderdom-rondes toe.
Lees 'n vorige artikel hier: 87-jarige speel nog 'n barshou op gholfbaan
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'