RIVERSDAL NUUS - Riversdal-krieketklub het Saterdag, 12 Februarie hul rieme op hul tuisveld styfgeloop teen Mayflower van Groot-Brakrivier toe hulle met twee paaltjies in hul SWDK Six Gun Grill Promosie A-ligawedstryd verloor het.
Die tuisspan het die loot gewen en besluit om te kolf. Dit het nie gunstig vir hulle verloop nie en was hulle na 29.2 beurte vir ’n skamele 100 lopies almal uitgeboul.
Net Mervin Prins met sy onoorwonne 15 lopies (3x4), Byron Esau ook met 15 lopies (1x4, 1x6), Justin van Rensburg met 13 lopies (1x6) en Granwin Scholtz met 12 lopies (2x4) ingesluit het, kon dubbelsyfers behaal.
Vir Mayflower was Roopesh Raveendran weer hul grootste uitblinker met die bal met 5/21 met 2 leeg na 4 beurte. Hy is goed deur Rhyno Prins met 2/25 met 1 leeg na 6 beurte, Marius de Vos met 2/29 met 2 leeg na 8.2 beurte, asook Clinton Pietersen met 1/24 na 6 beurte bygestaan.
Die besoekers, wat die skrale teiken van 101 lopies in hul toegelate 50 beurte gestel is, het die teiken na 29.1 beurte met hul totaal op 104/8 behaal. Dit was ’n hardkoppige onoorwonne vennootskap van 51 lopies om die 9de paaltjie tussen Rhyno Prins en Graham Samuels wat die Mayflower-wa deur die drif gekry het.
Net Prins met sy 30 lopies vanaf 69 balle (3x4, 1x6), Samuels met 26 lopies vanaf 24 balle (3x4) en Limahl Buys met 19 lopies (3x4) ingesluit het, het enige noemenswaardige weerstand met die kolf gebied.
Vir Riversdal het Esau met sy 3/21 met 1 leeg na 10 beurte, Jason van Rensburg met 3/39 na 10 beurte en Granwin Scholtz met 1/6 na 1 beurt die paaltjies ingeryg.
Die naweek se ligabepalings
Saterdag, 19 Februarie (tuisspanne eerste): Stroom 1 - Mayflower teen Heidelberg United en Thembalethu teen Riversdal; Pirates United het ’n loslootjie.
Stroom 2 - NMMU teen New Dawn Park en Pacaltsdorp United teen Western Hope.
Bongolethu het ’n loslootjie.
Sondag 20 Februarie: NMMU teen Bongolethu.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'