HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag 26 April hul algemene jaarvergadering (AJV) en erkenningsgeleentheid in die stadsaal se banketsaal gehou.
Denzil Geldenhuys en John Paige het as verkiesingsbeamptes die verkiesingsprosedure gefasiliteer.
Die nuwe voorsitter is Garth Esau, stigterslid en voormalige sekretaris, wat onbestrede verkies is. Cecil Meyers en Michael Williams, is weer onderskeidelik as ondervoorsitter en kassier in hul posisies herkies.
Die ander bestuurslede is Vennito van Niekerk (sekretaris), Carlo Williams (hulpsekretaris), Eatriyond Esau (hulpkassier) met Avril Williams, Coenraad Rowe en Phillip Robertson al drie addisionele lede.
Die verrigtinge is later met die erkenningsgeleentheid opgevolg. Die verrigtinge is deur verskeie gaste, lede en spelers bygewoon. Dean Hurling, ou bekende in krieketkringe landswyd, en nou woonagtig in Bethlehem, Vrystaat, het as gasspreker die aanwesiges toegespreek.
Benewens die spelers wat vereer is, is daar ook erkenning aan verskeie persone gegee wat op hulle beurt bygedra het tot die klub se ontstaan en vooruitgang, waaronder, Hurling, Trevor Februarie, Denzil Geldenhuys, Edward Februarie, Leonore Williams asook Clive Pretorius, beriggewer vir Suid-Kaap Forum en erepresident.
Die jaar was daar weer net vier kategorieë waarvoor spelers beloon was. Berthal September, is as speler van die jaar en beste kolwer aangewys. Hy is saam met Clive Pretorius en Eastriyond Esau met wisseltrofees beloon. Danielo du Preez is as beste bouler aangewys en het hy die Ockert Verwey- wisseltrofee ontvang, terwyl Jerome Esau as die mees toegewyde speler met die Samuel en Denise-wisseltrofee beloon is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’