HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United-krieketklub het verlede naweek gemengde welslae behaal.
Op Saterdag in hul wegwedstryd teen Telesto Ramblers van George het hulle 'n groot loesing gekry, maar Sondag het hulle 'n tuisoorwinning oor die ligavoorlopers, NMMU van George, behaal.
Ramblers het Heidelberg Saterdag met 140 lopies geklop. United het die loot gewen en besluit om die tuisspan in te stuur om te kolf.
United het egter met slordige boulwerk die tuisspan toegelaat om 'n bestendige totaal van 188/10 in 39.5 boulbeurte aan te teken. Ekstras het die grootste totaal met 47 bygedra.
Ramblers se beste kolwers was Henwico Stal (39) en Bryan Pyler (36).
Vir United het Berthal September (4/42), Elrick Pretorius (3/40) en Daniello du Preez (2/43) goed gevaar met die bal.
United moes 189 lopies aanteken, maar is vir 'n skamele 48 lopies in 19.2 beurte uitgeboender. Net Pierre Joshua met (12) en Berthal September (11) kon dubbelsyfers behaal.
Vir die tuisspan het Lewis met (6/20) en Chamille Canarie (2/13) die besoekers aan flarde geboul.
In hul tuiswedstryd Sondag teen die ligavoorlopers, Madibaz NMMU, het United 'n welverdiende sege met 53 lopies behaal.
United het die loot gewen en besluit om te kolf, waartydens hulle die skaflike totaal van 171/10 in 35.5 beurte aangeteken het. Die tuisspan se kaptein, Jaques Thyse, met 36 lopies wat 5 viere ingesluit het, en Corbin Swartbooi, met 33 wat 4 viere en 2 sesse ingesluit het, het die beste met die wilgerlat vertoon..
Vir die besoekers het Enver Windwaai met (5/15 in 7.5 beurte) met die bal uitgeblink.
Madibaz moes 172 aanteken, maar is vir 118 uitgehaal in 32.3 beurte. Dit het 'n bonuspunt verseker.
Vir United het Pretorius met (3/22 ), September (2/38) en Thyse (2/10) die beste met die bal gevaar.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'