HEIDELBERG NUUS - United-kieketklub het die afgelope naweek weer beide hul wedstryde gemaklik gewen.
In hul SWDK Promosie B-stroom ligawedstryd Saterdag 20 Januarie tuis teen Hartenbos, die huidige voorlopers, het hulle die besoekers met vyf paaltjies volgens die Duckworth/Lewis stelsel oortuigend geklop.
Teen Kranshoek Cobras Sondag in 'n wegwedstryd het hulle die tuisspan met 70 lopies gewen. Dit wil voorkom of die terugkeer van Tommy Lotz, vorige kaptein en afrigter, vrugte afgewerp het.
Die wedstryd teen Hartenbos was tot 37 beurte verkort as gevolg van die reën. United het die loot gewen en kaptein Danielo du Preez het besluit om die besoekers te laat kolf. Hulle is egter na 28.5 beurte vir 110 uitgeboul.
Net twee spelers kon dubbelsyfers behaal, met Durandt Lucas met 39 (5x4) nie uit nie en Wayne Salvage met 18 (1x4, 2x6).
Vir United het Corbin Swartbooi met 4/23 met een leeg na sewe beurte die beste met die bal gevaar.
Wesley Bunding met 1/4 met een leeg na twee beurte, Nathaniel Lodewyk met 1/20 met een leeg na vyf beurte, Jaques Thyse met 1/36 na agt beurte en Du Preez met 1/25 met een leeg na 6.5 beurte het die ander paaltjies laat spat.
United, wat 105 moes aanteken nadat die teiken aangepas is, het dit vir die verlies van vyf paaltjies na 18.5 beurte behaal.
Andrew Pieters met 27 (4x4, 1x6) het die beste met die kolf gevaar. Du Preez met 16 (2x4, 1x6) nie uit nie, Lodewyk ook met 16 (2x4), Thyse met 14 (2x4) nie uit nie, Leon Hartnick met 13 (1x4) en Berthal September met 12 (2x4) het ook hul deel bygedra.
Heidelberg United se spelers.
In hul wedstryd Sondag teen Kranshoek Cobras het hulle gewys dat hul sege die vorige week geen gelukskoot was nie.
Dié keer het United die loot verloor omdat hulle laat was en het die tuisspan hulle ingestuur om te kolf.
United het 162 lopies almal uit aangeteken vanaf 22.2 beurte. Corbin Swartbooi het 'n warrelwind 88 lopies vanaf net 47 balle (12x4, 4x6) op die telbord gesit.
Hy is goed deur Lodewyk met 25 (4x4) en Jaques Thyse met 21 (4x4) bygestaan.
Vir Cobras het Selwyn du Plessis met 3/36 na 6.2 beurte, Shanwell Martins met 2/32 na ses beurte, Lorenzo Preissex met 2/0 na net een beurt en Rehalcco Hartley met 2/42 na vier beurte die paaltjies ingeryg.
Die tuisspan wat 163 moes aanteken kon nie die mas opkom nie en is vir 92 lopies almal uitgeboul.
Net Martins met 26 (3x4, 1x6), John Koopman met 22 (4x4), Dolan Pypes met 13 (3x4) en Hartley met 12 lopies het probeer weerstand bied teen 'n venynige boulaanval.
Vir United het Jaques Thyse met 6/12 met een leeg na 6.2 beurte verwoesting gesaai om sy beste boulsyfers vir die klub te behaal. Du Preez met 3/32 na ses beurte en Corbin Swartbooi met 1/25 na vyf beurte het die ander paaltjies laat kantel.
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'