RIVERSDAL NUUS - Beyon Prins (17), wat in Riversdal gebore is, was nog 'n klein kindjie toe sy ma, Levina Baker, besef het haar kind hardloop volgens haar nie baie goed nie. Vandag is Beyon die beste 800 m-atleet in Suid-Afrika in sy ouderdomsgroep en het hy al talle rekords verbeter.
Op agtjarige ouderdom het Levina besluit sy gaan hom inskryf by die plaaslike atletiekafrigter, Bassel Abelse, ook bekend as oom B.
Beyon het hard gewerk en daagliks soggens om 04:30 gaan oefen, maar oom B het gesorg dat daar eers 'n vers uit die Bybel gelees word en daarna het hulle gebid. Sodra hy klaar geoefen het, het hy vinnig huis toe gegaan om betyds klaar te maak vir skool.
Met verdrag het hy sterker geraak en al hoe beter begin hardloop.
In Riversdal het hy teen plaaslike skole gehardloop, wat nie regtig vir hom kompetisie was nie, maar later toe hy teen skole buite Hessequa begin meeding, het die uitdaging hom net meer geïnspireer om harder te werk.
Die gebore Riversdaller Beyon Prins (17) het sy Springbokkleure in atletiek verwerf.
Finansieel het dit baie moeilik gegaan en soms, wanneer hy iewers moes gaan hardloop, moes hy spesifieke kleredrag hê, maar met lootjieverkope, ondersteuning van die gemeenskap en die Christen Gemeente Riversdal, het hulle al sy vervoerkostes gedek en klere soos benodig gekoop.
Geld vir 'n paar goeie sporttekkies was daar nie, maar danksy 'n goeie kerkvriend van Levina, kon Beyon spog met 'n paar Nike's wat hy vir vyf jaar gedra het tot hulle voos was.
Deur harde werk en toewyding het sy liggaam mettertyd al sterker geraak. Beyon is twee jaar agtereenvolgens by Panorama Primêr aangewys as sportman van die jaar.
Daarna is hy na Hoërskool Langenhoven waar 'n familielid toevallig op sosiale media gelees het dat Endurocad, wat deur die twee bekende atlete Elana Meyer en Zola Budd gestig is, beurse aan belowende atlete gee. Hulle het dadelik aansoek gedoen, "Wie nie waag nie, wen nie," vertel Levina.
Beyon in aksie op die atletiekbaan.
Beyon Prins het as jong seun by Panorama Primêr hard gewerk aan sy atletiekloopbaan.
Endurocad en die borg, Athletics Cycling Education Trust, besoek jaarliks verskillende dorpe op soek na belowende atlete wat minder bevoorreg is, sodat hulle 'n regverdige kans kan kry in dié sport. Atlete wat gekies is, is genooi vir 'n naweek na Hoërskool Stellenbosch waar hulle afsonderlike sessies met die skool en Endurocad gehad het vir keuring. In November 2021 is Beyon goedgekeur vir 'n beurs en in 2022 is hy na Hoërskool Stellenbosch waar die beurs alles van sy skoolfonds, verblyf tot sakgeld betaal het. Adidas is sy klereborg.
Op 2 Mei 2023 het hy deelgeneem aan die Zambia Afrika Spele waar hy 'n vierde plek behaal het in sy afdeling en ook sy Springbokkleure gekry het.
Beyon toets nou die waters met swemlesse wat deur Elana aangebied word en op 17 Oktober het hy 'n toekenning by Hoërskool Stellenbosch gekry vir swem.
Die toekomsplanne vir 2024 is om skool klaar te maak by Hoërskool Stellenbosch, waarna die beurs hom in 2026 oorsee stuur om sy atletiektalent verder te slyp.
"Vandag kan my kind ander atlete seën met skoene en klere. Ons hande is oop want die Here is goed vir ons en ons wil graag dieselfde terugploeg," vertel Levina trots.
Die borg van Athletics Cycling Education Trust (regs), saam met Elana Meyer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’