Update
STILBAAI SPORT NUUS - Sowat 80 deelnemers het Saterdag 29 Junie die maandelikse Kasselshoop Farm Run op die plaas Klein Soebattersvlakte aangepak.
Al die deelnemers, waarvan die 82-jarige Alwyn Visser van Stilbaai die oudste en verskeie vyfjariges die jongstes was, het die 5,3 km-roete op eie stoom voltooi.
Party het dit vinniger gedoen, soos Gurswin Jones wat dit vir die tweede keer vanjaar in 21 minute gewen het, terwyl ander 'n rustiger pas gehandhaaf en terselfdertyd die mooi omgewing bewonder het.
Jones, Kasselshoop se assistent-kaasmaker was net 24 sekondes voor Flip Maree, 'n besoeker van Denemarke, by die eindstreep. Die eerste vrou, Yvonne van Staden, 'n Stellenbosch-student, het uitstekend gevaar en derde algeheel met 29 minute 22 sekondes klaargemaak. Geoffrey Prins van Riversdal was ses sekondes na Van Staden die derde man by die eindstreep.
Hy is gevolg deur Stilbaai se Johan Barnard, vakansieganger Nico Retief en nóg 'n Stilbaaier, Reghard Potgieter. Genevieve de Bruyn (14) van Caledon was agtste algeheel en die tweede jong vrou by die eindpunt. Haar agtjarige boetie, Nicolas, het saam met haar klaargemaak. Kara Sith (12) was die derde vrou op die podium en het die toptien afgerond.
Die deelnemers het die rustige plaasatmosfeer geniet. Na die afgelope paar maande se heerlike reën is die veld en landerye in groen getooi, terwyl veldblomme vir ekstra kleur sorg.
Die volgende Kasselshoop Farm Run/Walk vind Saterdag 27 Julie plaas. Inligting is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za
Van links: Alwyn Visser (82), sy vriend, Nico Leipoldt (77) en Alwyn se seun, Hendrik, almal van Stilbaai.
Boshoff Visser rekenmeesters op Stilbaai het die byeenkoms as ’n spanbou gebruik. Van links: Annerise Wolmarans, Belinda Roos, Zelna Visser, Luanne van der Walt en Rosa Cronjé.
Gurswin Jones het die FarmRun in 21 minute kafgedraf. Foto's: Richard Webb
Lees 'n vorige artikel hier: Sowat 80 draf Kasselshoop kaf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'