SPORT NUUS - Die jaarlikse Meiringspoort Challenge, wat verlede Saterdag soos gewoonlik in De Rust plaasgevind het, is deur een van die organiseerders, Leanne Schoeman, as 'n onvergeetlike wedloopervaring beskryf vir almal wat deelgeneem het.
Volgens Schoeman het sowat 510 atlete aangetree vir die wedlope wat in modderige toestande, dog ongelooflike natuurskoon beslis is.
Terwyl die deelnemers gewag het vir die warm wintersonnetjie om sy verskyning te maak het oud en jonk hul lywe solank by die verskeie kampvure wat aangesteek was warm gemaak.
Johan Brooks was oudergewoonte vir die musiek verantwoordelik en daar het 'n feestelike atmosfeer regdeur die dag geheers.
Die dag se wedlope het verskeie afstande en kategorieë ingesluit om aan die uiteen-lopende behoeftes en vermoëns van die deelnemers te voldoen.
Die MTB-wedlope het hul eie unieke uitdagings gehad, veral met die modderige toestande. Die deelnemers moes hul balans en vaardighede op die fiets verskerp om die modderige paaie baas te raak.
Die veldwedlope het reeds vanaf 08:00 weggespring.
Alhoewel die dag klopdisselboom verloop het, was daar verwarring tydens die 9,6 km-
en die 25 km-veld-wedlope oor wie nou eintlik gewen het.
Dit is blitsvinnig deur die organiseerders opgelos. Dit wou voorkom asof die voorlopers aanvanklik die verkeerde afdraaipad na die wenpaal geneem het weens foutiewe inligting deur die aangewese rigtingaanwysers.
"Alhoewel die modderige toestande en die warm sonnige weer uitdagend was, het die deelnemers hulself oortref en die eindstreep bereik.
"Dit was 'n dag van prestasie, avontuur en saamstaan in die gesig van uitdagings.
Die Meiringspoort-uitdaging sal vir baie deelnemers 'n onvergeetlike gebeurtenis bly, en dit is 'n viering van die liefde vir sport en die wonderskoonheid van ons land," het Schoeman gesê.
Die volledige uitslae is op Meiringspoort Challenge se Facebook-blad beskikbaar.
Noel Bell (middel) het goud ingepalm in die 19,5 km-bergfietswedren. Siphosihle Lucas (links) was tweede gevolg deur Anthony Tuffin wat in die derde plek was.
Jeane Marie Eksteen was die vrouewenner van die 9,5 km-veldwedloop. Regs oorhandig Leon Kruger (Safire Insurance Company) haar prysgeld.
Lloyd Bosman (middel) was eerste in die 9,5 km-veldwedloop. Regs is Selwyn Matthews (tweede) gevolg deur Werner Julius wat in die derde plek was. Foto's: Facebook
Meiringspoort se natuurskoon op sy beste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’