HEIDELBERG ATLETIEKNUUS - Hoewel sy nie vir die finale ronde van die afgelope Olimpiese Spele gekwalifiseer het nie, skrik dit nie vir Heidelberger Jo-Ané van Dyk, SA Olimpiese spiesgooier af om haar droom met die volgende Olimpiese Spele in 2024 in Frankryk te verwesenlik nie.
Van Dyk het wel nie so goed presteer soos sy verwag het nie, maar sy is vol vertroue dat die ervaring wat sy tydens haar debuut-Spele opgedoen het, haar tot voordeel kan strek.
Sy het op 3 Augustus aan die uitdunrondes deelgeneem, waar sy afstande van 55,31m, 55,43m en 57,69m met die spies behaal het. Dit was egter nie ver genoeg om tot die finale ronde deur te dring nie en het sy 'n 24ste plek behaal.
LEES: Heidelberger na Tokio vir Spele
"Die droom wat ek so lankal van droom, het gerealiseer. Die teleurstelling om nie die finale ronde te haal nie, is soos olie op die vuur wat lank reeds brandend in my hart is," het sy aan Suid-Kaap Forum gesê. "Ek glo dat daar 'n rede is vir elke seisoen van die lewe en ek prys God vir dit, die goed en sleg. Ek weet ek is presies waar Hy my wil hê."
Sy het ook die ervaring wat sy opgedoen het, as onbeskryflik beklemtoon. "Ek het nog die jeugdigheid aan my kant. Ek sien daarna uit om in 2024 deel te neem en hopelik met 'n medalje terug te keer."
Sy het haar afrigter, familie, vriende, kollegas en almal wat haar ondersteun het, bedank. "Dankie, dankie, dankie vir elke boodskap, oproep, video, kaart of foto. Ek waardeer dit en hou dit naby my hart."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'