TUINROETE NUUS - Meiringspoort se halfmarathon is sekerlik een van Lloyd Bosman se gunsteling wedlope - verál ná hy verlede Saterdag 8 Oktober, sy 2018 rekord van 1:03:57 verpletter het met skrams meer as twee minute.
Bosman, 'n lid van die Nedbank-atletiek-klub, het verlede naweek die 21,1 km-wedloop in 'n tyd van 1:01:36 voltooi. Dié oorwinning maak dit die vyfde agtereenvolgende jaar dat hy De Rust se Optimum Meiringspoort-halfmarathon wen.
"Dit was my sewende Meiringspoort-halfmarathon waaraan ek deelgeneem het en my sewende wen. In die opbou na die wedloop het ek harde 'kilos' ingesit. Daarom was ek nie bang om myself 'diep in die rooi' te druk nie.
"Dit het vrugte afgewerp en beteken baie vir my selfvertroue," sê Bosman.
Bosman meen hy gaan van meet af aan net sterker en vinniger word en beoog om nog vir baie lank Meiringspoort se kampioen te wees.
Sy twee oefenmaats, albei ook Nedbank-atlete, Godwin Heyns (1:05:39) en Bernardo Fredericks (1:06:21), was onderskeidelik tweede en derde.
Duisende atlete het vanjaar aan die Meiringspoort-halfmarathon en 12,5 km-wedloop deelgeneem. Foto: www.oakpics.com
Vrouerekord verpletter
Nog 'n rekord het gespat in die vroue se halfmarathon wat ná 12 jaar deur Hanlie Botha van Born 2 Run-atletiekklub (Oos-Londen), met 'n tyd van 1:18:55 gewen is. Die vorige rekord is in 2010 deur die plaaslike Nedbank-atleet, Melissa van Rensburg, opgestel met 'n tyd van 1:20:21.
Dit is die eerste keer dat die dieet-kundige van Oos-Londen deur die poort gehardloop het. Sy sê dit was 'n onbeskryflike mooi ervaring en sy en haar man, 'n kranige atleet wat ook aan die wedloop deelgeneem het, sal beslis volgende jaar weer terug wees saam met nog atlete uit hul omgewing.
Volgens een van die organiseerders Bernard Delport, het 3 800 atlete vanoor Suid-Afrika en selfs Nederland, ingeskryf. Hiervan het 2 800 geregistreer, 1 710 atlete het die halfmarathon voltooi en 884 het die 12,5 km-wedloop voltooi.
"Ons sien uit na volgende jaar se wedloop wat op 14 Oktober plaasvind. Talle atlete wat vanjaar deelgeneem het, het gesê hulle is volgende jaar weer terug en bring nog atlete saam. Dié jaar was die 28ste Meiringspoort-halfmarathon en dit word elke jaar net beter," sê hy.
Melissa van Rensburg van die Nedbank-atletiekklub het die tweede plek in die halfmarathon se veterane-afdeling en die derde plek in die ope-afdeling, met 'n tyd van 01:25:59 behaal. Foto: www.oakpics.com
Agter, van links is Moses Gericke, visepresident van Atletiek SWD, Bernardo Fredericks, Lloyd Bosman, Godwin Heyns en Jan Nel van Optimum, die wedloop se hoofborg. Voor is Leilani Scheffer wat 'n tweede plek met 'n tyd van 01:22:08 in die opevroueafdeling behaal het, en wenner en rekordhouer van die opevroueafdeling, Hanlie Botha (01:18:55). Afwesig: Melissa van Rensburg, wat die derde plek in die opevroueafdeling behaal het. Foto: www.oakpics.com
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'